Daar is ’n groot debakel nadat die bestuur van die Noordwes-Universiteit (NWU) onlangs die dra van koshuisdrag tussen 08:00 en 17:00 verbied het.
Volgens die kampus se studenteraad onder leiding van voorsitter Jacques Hugo, is die studenteleierskapstrukture glad nie vooraf geraadpleeg oor dié besluit nie en het hulle ’n dringende vergadering met die bestuur gevra om die besluit te bespreek.
Volgens hom is daar na ’n lang, maar vrugtevolle gesprek met die bestuur sekere vergunnings gemaak ten opsigte van die dra van koshuisdrag.
Die bestuur het ook voorgeneem om voortaan nie besluite te neem sonder om die studenteleierskap in die saak te ken nie,” het Hugo gesê.
Die vergunnings wat gemaak is beteken in wese dat die keuse van klere ’n vrywillige saak is. Die dra van koshuisdrag word steeds tussen 08:00 en 17:00 verbied, tensy dit by koshuisgeleenthede (sport, sosiaal en kultureel) is. Dit sluit nie klere met die NWU handelsmerk of koshuishoede of rugsakke wat reeds gekoop is, in nie.
Volgens Louis Jacobs, woordvoerder van die NWU, is hierdie maatreëls net van toepassing op eerstejaars en ook net tydens die registrasie en oriënteringstydperk (R&O).
In ’n verklaring van prof. Dan Kgwadi, visekanselier van die NWU, is hierdie maatreëls op geen manier ‘n poging om die studentelewe in koshuise op enige kampus te onderdruk nie.
“Ons moedig alle spontane of georganiseerde aktiwiteite aan, solank dit nie op enige student, eerstejaar of senior afgedwing word nie en ten alle tye die menswaardigheid van almal erken en respekteer,” het hy gesê.
Lees in vandeesweek se Herald meer oor wat Afriforum jeug en prominente oud-Pukke oor die besluite te sê het.
https://www.citizen.co.za/potchefstroom-herald/43349/koshuisdrag-slegs-vir-na-uurse-gebruik/



