Witrand-hospitaal soek naasbestaandes van oorlede pasiënt
In die meer as vier dekades wat hy daar deurgebring het, het hy nooit enige besoeke van familie of naasbestaandes ontvang nie.
Die bestuur van die Witrand Spesialishospitaal in Potchefstroom doen ’n beroep op die publiek om te help om die naasbestaandes van ’n 54-jarige man, wat onlangs oorlede is, op te spoor.
Bernard Graythorne is op 31 Oktober 2026 oorlede. Volgens hospitaalrekords is hy op 13 November 1972 gebore.
Graythorne is op 16 Mei 1980, toe hy slegs agt jaar oud was, saam met sy broer vanaf die Vereeniging-hospitaal na Witrand oorgeplaas.
Wat die situasie besonder hartseer maak, is dat Graythorne volgens die hospitaal se rekords in die meer as vier dekades wat hy daar deurgebring het, nooit enige besoeke van familie of naasbestaandes ontvang het nie. Daar is ook geen rekord van enige kontak tussen hom en sy familie nie.
Volgens die beskikbare inligting was sy moeder Maria Martha Patterson, wat na bewering ná haar hertroue die van Patterson aangeneem het. Daar word vermoed dat sy biologiese vader reeds oorlede was voordat Bernard in 1980 by Witrand opgeneem is.
Die laaste bekende woonadres wat in die hospitaal se rekords verskyn, is 53 Howardlaan in Benoni, Gauteng.
Nico Masiu, assistent-direkteur van kommunikasie by die hospitaal, doen ’n beroep op enigiemand wat moontlik vir Graythorne of sy familie geken het, om na vore te kom.
Die hospitaal versoek enige familielede of persone met inligting om Witrand Spesialishospitaal te kontak of die hospitaal se maatskaplike werker by 018 294 9100 te skakel.
Indien geen familielid na vore kom of kontak met die hospitaal maak nie, sal ’n verslag ingedien word sodat reëlings vir ’n armlastige begrafnis getref kan word.
Die hospitaal hoop dat iemand met inligting na vore sal kom sodat Bernard se familie opgespoor kan word. Daar is tans geen foto van hom beskikbaar nie.



