
‘n Onderonsie tussen ‘n motor- en ‘n taxibestuurder het Maandag daartoe gelei dat die motorbestuurder met ’n mes gesteek is.
’n Selfoonvideo wat deur ’n ooggetuie van die gebeure geneem is, het groot opslae veroorsaak en is wyd en syd oor die land versprei. Op die Herald se Facebookblad en webtuiste het duisende na die video gekyk.

Volgens ooggetuies het twee taxi’s Maandagmiddag omstreeks 15:00 langs mekaar in Du Plooystraat stilgehou. “Hulle het so gestaan dat ons nie kon verby- kom nie. ‘n Mens sou teen aankomende verkeer moes inry om verby te kom,” het die ooggetuie gesê. Die bestuurder van die blou voertuig in die video het glo verbygery en een van die taxibestuurders gekonfronteer.
Die ooggetuie het toe die video begin neem. Dit wys waar die man die taxibestuurder konfronteer, waarna die taxibestuurder uitklim en die man met ’n skerp voorwerp steek.
Die motorbestuurder, wat anoniem wil bly oor vrees dat die taxibestuurder hom en sy familie kan teiken, het aan die Herald bevestig dat hy met ’n mes gesteek is. Volgens hom het die onderonsie reeds begin toe die taxibestuurder hom in Govan Mbekirylaan aan linkerkant wou verbysteek. “Hy het my voertuig gekrap en daarna net weggery. Ek het hom toe gejaag.”
Hy het daarin geslaag om die taxi op die hoek van Peter Mokaba- en Wolmaransstraat voor te keer, waar hy met die mes gesteek is. “Hy wou my in die nek steek, maar het my gelukkig net in die arm getref,” het die man vertel. Die taxibestuurder het toe weer weggejaag, waarna die man hom gevolg en by die taxistaanplek voorgekeer het. Daar het die taxibestuurder glo weer in sy voertuig vasgery. “Teen daardie tyd was die polisie by. Die taxibestuurder het aan die polisie vertel dat ek onder die invloed is. Die polisie het my nie toegelaat om verder te bestuur nie en het my in die vangwa gelaai. Hulle het later bevestig dat ek nie onder die invloed was nie, maar hulle het glad nie die taxibestuurder in hegtenis geneem nie, selfs al het hulle die wond van die messteek gesien,” vertel hy.

Volgens hom ly hy aan epilepsie en was hy in skok. Die polisie het glo ook nie mediese bystand aan die man gebied nie. Tydens die chaos is sy selfoon ook verloor. “Ek verstaan nie hoekom die man nie aangekla word nie. Die polisie weet tog van die misdaad, hoekom het hulle nie teenoor hom opgetree nie? Ek gaan hom beslis aankla en as die polisie nie optree nie, gaan ek hulle ook aankla,” het hy gesê. Volgens ao. Mpho Manyoba, polisiewoordvoerder, is dit moeilik vir bestuur om ondersoek in te stel as klagtes en probleme nie gerapporteer word nie. In ’n gesprek met die Herald het sy onderneem om die man te skakel sodat meer inligting oor die voorval bekom kan word. Volgens haar is daar noodsaaklike inligting wat eers verkry moet word voordat daar daadwerklik deur bestuur opgetree kan word.
https://www.citizen.co.za/potchefstroom-herald/44874/video-padwoede-lei-na-messteek/




