
“Watter soort mens ry iemand raak en jaag net weg?”
So vra die pa van ’n student wat Maandagaand in Thabo Mbeki-rylaan tydens ’n tref-en-trap-ongeluk ernstig beseer is.
Jaco van Eeden (19), ’n tweedejaar student in mikrobiologie aan die NWU, was Maandagaand omstreeks 21:00 op sy motorfiets op pad terug huis toe na die Pukke se Varsitybeker-wedstryd teen die Shimlas.
Hy is kort daarna in Thabo Mbeki-rylaan naby Gimmies se sportgronde deur ’n voertuig raakgery.
Volgens sy pa, Albie van Eeden, was Jaco in die regterbaan toe hy die voertuig sien wat vinnig van agter kom.
Hy het begin om na die linkerbaan te beweeg, maar die bestuurder van die voertuig het besluit om Jaco aan die linkerkant verby te steek.
“Die voertuig het Jaco getref en die bestuurder het weggejaag. Een van Jaco se vriende het agter die voertuig aangery, maar kon dit nie inhaal nie,” sê Jaco se pa.
Volgens hom het hy hom doodgeskrik toe paramedici hom bel om met sy seun te praat.
“Hulle het dit goed hanteer. Die persoon het gebel en gesê dat hy ‘n paramedikus is en dat my seun ‘okay’ is. Hy het toe vir Jaco die foon gegee sodat ek met hom kan praat. Dit het my darem bietjie gerusgestel,” het hy gesê.
Jaco se tannie het Dinsdag ’n boodskap aan die publiek gerig om te help om die persoon wat weggejaag het, op te spoor.
Volgens Van Eeden is dit ’n wit of silwer Toyota Fortuner. “Die voertuig moet skade aan sy regterkant hê,” sê hy. Jaco het sy sleutelbeen en gewrig gebreek en moes Dinsdagaand ’n operasie ondergaan om penne te laat insit.
“Hy het nog baie seer, maar ons is baie dankbaar dat hy nie verlam of dood is nie. Dit kon baie erger gewees het,” het Van Eeden gesê.
Dit is die derde ernstige ongeluk op dieselfde pad waaroor die Herald berig. ’n Student is dood nadat hy met sy motorfiets in ’n botsing met ’n trok in die verkeersirkel betrokke was.
’n Damestudent is ook ernstig beseer toe sy deur ’n trok raakgery is. Dié het ook van die toneel weggery sonder om te stop.
Enigiemand wat iets gesien het of meer inligting het, kan Albie by 072 463 3628 skakel.




