Gerhardus (Gerhard) van Rooyen, verhoorafwagtende gevangene in ’n bedrogsaak, is in die sop nadat ’n selfoon by hom gevind is in die Potchefstroom-gevangenis.
Van Rooyen is die seun van die pedofiel Gert van Rooyen wat homself en sy verloofde, Joey Haarhoff, op 15 Januarie 1990 in Pretoria doodgeskiet het. Hulle word verbind met die verdwyning van minstens ses meisies tussen 1988 en 1989. Die meisies tussen 11 en 14 jaar is nooit gevind nie.
Enkele ure nadat Netwerk24 verlede Donderdag (8 Maart) berig het oor ’n onwettige selfoongesprek tussen Van Rooyen en ’n vertroueling, het die departement van korrektiewe dienste laat weet dat ’n selfoon by Van Rooyen gekry is. Selfone word glad nie by gevangenes toegelaat nie. Van Rooyen word in die Potchefstroom-gevangenis aangehou in afwagting op sy borgaansoek op 16 Maart in die Klerksdorp-landdroshof, waar hy en sy vrou, Elana, van bedrog aangekla word. Kenneth Mthombeni, waarnemende adjunk-streekskommissaris van korrektiewe dienste in Limpopo, Mpumalanga en Noordwes, sê die selfoon is in Van Rooyen se besit gevind nadat Netwerk24 ’n klankopname aan die owerhede verskaf het.
Ügen Vos berig dat Van Rooyen ene Gerrie in die klankopname vra om vir hom ’n selfoon in die tronk in te smokkel, en help met geld vir lugtyd omdat hy mense “buite” wil bel. Van Rooyen noem in die gesprek daar is ’n bewaarder wat glo sal help om die selfoon in te smokkel. Van Rooyen vra ook Gerrie moet help om vir hom ’n adres, al is dit net “akademies”, te verskaf met die oog op sy aansoek om borgtog.
Gerrie het erken die gesprek het wel tussen hom en Van Rooyen plaasgevind, en bygevoeg hy het die opname “per ongeluk” aan ’n ander persoon gestuur. Die opname is daarna eksklusief aan Netwerk24 gelek. Mthombeni sê Van Rooyen se selfoonbesit word nou ondersoek, en dat dié ondersoek hopelik sy “smokkelnetwerk” sal blootlê. “Ons sal toepaslik optree teen enige amptenaar wat hierby betrokke is.” In die selfoongesprek meld Van Rooyen ook dat hy vreeslik maagpyn het en versoek hy Gerrie om sy vrou (Elana) te vra om vir hom pynpoeiers te bring. Mthombeni sê mediese dienste word wel aan gevangenes verskaf.
“Hy (Van Rooyen) was op 15 Februarie by ons kliniek weens maagpyn. Hy het medikasie gekry en het daarna nie weer die kliniek met klagtes besoek nie.” Lt.kol. Adéle Myburgh, polisiewoordvoerder in Noordwes, sê die klankopname is nou ook aan die ondersoekbeampte in die Klerksdorp-bedrogsaak oorhandig. Die klaer in die saak, Ursula van der Westhuizen, sê sy het al verskeie oproepe van mense gekry wat haar probeer intimideer om die aanklagte teen die Van Rooyen-egpaar terug te trek. Hulle probeer dan glo op haar gevoel speel, onder meer deur te vertel Van Rooyen is baie siek aan kanker en dat hy slegte kos in die tronk kry. Volgens die polisie het die Van Rooyens na bewering R30 000 uit Van der Westhuizen geswendel met ’n bedrieglike motorkooptransaksie – sy het glo ’n deposito betaal, maar nooit die voertuig ontvang of haar geld teruggekry nie. Elana is vroeër op borgtog van R5 000 vrygelaat. Van Rooyen is veronderstel om op Vrydag 16 Maart in die hof te verskyn vir ’n borgtogaansoek. Gerbrand Moller, ’n sakeman van Hermanus in die Wes-Kaap, het intussen klagte van onder meer aanhitsing tot moord en intimidasie teen Van Rooyen aanhangig gemaak ná onderonsies tussen die twee oor Gert van Rooyen sr. se dood in 1990.




