
‘n Verdagte in ‘n kwaadwillige skade aan eiendom saak het Donderdagaand (15 Maart) omstreeks 20:30 sy hond op polisie beamptes losgelaat nadat hulle hom by sy huis in Tuscany Ridge wou ondervra.
Volgens ao Mpho Manyoba, polisiewoordvoerder, was beamptes by die verdagte se huis om hom te ondervra rakende ‘n saak toe hy sy hond op beamptes loslaat.
“Die beamptes het terug na die sekuriteit toe gegaan waar die sekuriteitsbeamptes die verdagte gebel het om met die polisie te kom praat,” het Manyoba gesê.
Die verdagte het eers versuim om met die polisie te praat waarna hy saam met ‘n ander man in sy voertuig by die hek opgedaag het.
“Aanvanklik wou hy nie uit die voertuig klim, nie maar later het die polisie daarin geslaag om die man uit die voertuig te kry, waarna hulle hom in hegtenis geneem het,” het sy gesê.
Die man word nou ook aangekla van aanranding van ‘n polisiebeampte asook dat hy die polisie belemmer het om sy pligte na te kom.
Volgens Manyoba het die verdagte gesê dat die polisie korrup is en dat hulle geld by die klaer gevat het om hom in hegtenis te neem. Sy het die aantuigings ten sterkste ontken.




