Veertig persent SA dogters tussen 14 en 19 swanger
Veertig persent dogters tussen 14 en 19 jaar oud in Suid-Afrika was reeds een keer swanger. Vyftig persent van hulle word vir ‘n tweede keer voor 19 jaar swanger. Tussen ‘n half en een miljoen babas wat jaarliks gebore word, se ma’s is nog tieners. Beplande swangerskappe kan tot kosbare tye in ouers se lewens …

Veertig persent dogters tussen 14 en 19 jaar oud in Suid-Afrika was reeds een keer swanger. Vyftig persent van hulle word vir ‘n tweede keer voor 19 jaar swanger. Tussen ‘n half en een miljoen babas wat jaarliks gebore word, se ma’s is nog tieners.
Beplande swangerskappe kan tot kosbare tye in ouers se lewens lei. Swangerskap word dan die tyd waarin ouers fisies, emosioneel en finansieel vir die kleinding se aankoms voorberei.
Nogtans is duisende swangerskappe onbepland en kan lei tot ‘n emosionele op-en-af-reis vir die ouers sowel as vir die baba. Voorkoming van ontydige swangerskappe is albei die ouers se verantwoordelikheid op dieselfde manier as wat die versorging en grootmaak van ’n kind albei die ouers se aandag vra.
Swanger tieners ervaar dikwels weinig ondersteuning en begrip. Hulle hoor en ervaar eerder veroordeling deur ouers, onderwysers, verpleegkundiges, geloofsgemeenskappe en selfs hulle vriende. Jong pa’s is dikwels traag om verantwoordelikheid te neem of word deur families verhinder om betrokke te raak.
Baie swanger dogters beleef depressie wat tot nageboorte depressie kan bydra en potensieel tot selfmoord kan lei. Tienerswangerskap word beleef as ‘n verbrokkeling van ‘n lewensdroom.
‘n Studie wat deur UNISA se onderwysdepartement onderneem is, het aangedui dat die meeste swanger tieners ‘n gebrek aan seksonderrig as hulle nommer een rede vir swangerskap is.
In die lig van hierdie situasie behoort die skok van onderwysers en selfs skoolhoofde wat met seksuele gedrag by kinders betrokke raak, ons almal tot aksie te laat oorgaan!
SAVF FAMNET het tot aksie oorgegaan, omdat besef is dat ‘n baba wie se ma self ‘n kind is en onder veroordeling leef, min kans het om as ‘n gelukkige, gesonde, intelligente en verantwoordelike kind groot te word. Hierdie sirkel moet verbreek word. Rebuilding Dreams is ‘n program wat die uitdagings van tienerswangerskap aanspreek en wat leiding gee oor goeie ouerskap, insluitend pa-betrokkenheid. Groepleiers word opgelei om 14 sessies groepwerk met tienerouers te doen. In die proses word die tiener begelei om opnuut te droom en stappe te neem om drome vir hulself en hulle kinders se toekoms te laat waar word.
Die volgende opleidingsgeleentheid is op 13 Februarie. Opleiding word ook op versoek elders aangebied.
Hierdie opleiding is waardevol vir mense wat enige plek in gemeenskappe werk. Skole en klinieke en daarom ook die Departement van Onderwys en Gesondheid behoort betrokkenheid by hierdie program ernstig te oorweeg.
Ander beskikbare hulp: Verwagtende moeders wat staatsklinieke bywoon word nasionaal by die Departement van Gesondheid geregistreer en ontvang weekliks SMS-boodskappe met inligting oor die baba se ontwikkeling en riglyne vir swangerskap en selfs na-geboorte sorg. As ma’s dit nie kry nie, moet hulle daaroor navraag doen by hulle plaaslike kliniek.
Verskeie toepassings kan op slimfone afgelaai word, soos “Baby center,” “Ovia Pregnancy,” “Nurture,” “What to expect” en “The Bump.”
Vir meer inligting oor Rebuilding Dreams, skakel Erna Rheeder by 084 3839 417, of erheeder@savf.co.za.



