
’n Derdejaarstudent is al vier keer beroof terwyl hy met sy studies besig is.
Volgens Eugene Thuynsma (21) het die nuutste voorval Maandagoggend omstreeks 06:30 in Dwarsstraat plaasgevind.
Hy was op pad om te gaan oefen toe drie mans hom genader het.

“Drie jongerige ouens het na my toe gekom en vir geld gevra. Hulle was aanvanklik nie aggressief nie. Ek het gesê ek het nie geld nie,” vertel hy. Een van die mans het dadelik ’n mes uitgepluk, waarna hy Thuynsma begin dreig het.
“Dit was so skielik, toe ek weer sien het die ander twee my vasgegryp,” vertel hy.
Volgens hom het hulle baie aggressief begin word. Hulle het sy baadjie afgeruk en sy sak gevat.

“Ek was nie baie bang nie, omdat dit al so baie met my gebeur het, maar my paspoort was in daardie sak. Nou moet ek ’n nuwe paspoort gaan kry voor ek kan huis toe gaan,” het dié Namibiër gesê. Nadat hulle Thuynsma beroof het, het die verdagtes in die rigting van die spoorlyn gevlug.
“Ek het later by die spoorlyn gaan kyk of hulle nie dalk my paspoort weggegooi het nie, maar kon niks kry nie. Die polisie het vir my gesê dat dit nogal baie in die area gebeur. Daar is plekke wat lyk of mense daar woon.
Die drade is geknip sodat hulle maklik daar kan inkom,” het hy gesê.
Thuynsma het na die roof na die studentehuis waar hy woon gehardloop. Mooirivier Beskerming en die polisie is ontbied waarna hy die saak gaan aanmeld het.
Volgens kapt. Mvula Chaka, polisiewoordvoerder, word ’n saak van gewapende roof ondersoek. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.




