
“Ek het soos ’n mal mens geskree en probeer karre stop, maar niemand wou help nie.”
So vertel ’n vrou wat Dinsdagmiddag omstreeks 16:00 in Malherbestraat met ’n mes teen haar keel van haar selfoon beroof is.
Volgens Chantelle van der Merwe was sy te voet op pad na die OK en het met haar sussie op die foon gepraat. ’n Man wat glo met haar wou praat het haar van voor af genader. “Ek het vir hom gesê, nee ek ken jou nie ek wil nie met jou praat nie. Dit is toe dat hy ’n mes uithaal en teen my keel druk,” vertel sy.
’n Ander verdagte het haar ook van agter genader.

Volgens haar het hulle die selfoon gevat en doodluiters weggestap.
“Ek het so groot geskrik. Ek het geskree en probeer karre stop, maar niemand wou help nie. Almal het net verbygeloop. Hulle het nie ’n saak met my gehad nie,” vertel sy.
Van der Merwe, wie se sussie nog aan die lyn was, het Mooirivier Beskerming ontbied.
Volgens Christiaan Haefele, bedryfsbestuurder van Mooirivier Beskerming, het hulle na die toneel gehaas.
“Ons het niemand opgespoor toe ons die eerste keer daar was nie,” vertel hy.
Volgens Van der Merwe het sy later die dag die verdagte in die straat gesien en Mooirivier Beskerming dadelik weer ontbied. Volgens Haefele het hulle toe die verdagte vasgetrek.
“Ons het kort voor dié voorval ’n oproep uit Dwarsstraat gekry, waar daar ook ’n vrou beroof is. Daardie area is die laaste ruk baie erg,” sê hy. Volgens Van der Merwe was sy erg geskok, maar dankbaar dat dit nie erger was nie.
“Ek sal mense aanraai om nie dieselfde fout as ek te maak nie. Moenie met jou selfoon in die straat loop en praat nie,” het sy gesê.
Volgens Mvula Chaka, polisiewoordvoerder, word ’n saak van gewapende roof ondersoek.



