Ses mense is beseer in ‘n ongeluk wat Sondagaand omstreeks 18:20 op die N12 sowat 30km buite Potchefstroom plaasgevind het.
Vier voertuie was in die ongeluk betrokke en drie van die ses beseerdes is in ‘n kritieke toestand. Toe ER24 paramedici by die toneel kom het hulle ‘n man in sy 50’s en ‘n dogter (9) aangetref wat in een van die voertuie vasgevang was. Nog ‘n vrou, blykbaar ‘n student aan die NWU se Potchefstroomkampus, was in ‘n ander voertuig vasgevang.
Volgens Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het die brandweerdienste reddingsgereedskap gebruik om die drie pasiente uit hul voertuie te haal. Al drie die pasiente het verskeie beserings opgedoen en was in ‘n kritieke toestand.
ER24 paramedici het die pasiente behandel waarna die negejarige per helikopter na die Baragwanath provinsiale hospitaal geneem is. Die ander twee pasiente is elk per ambulans na hospitale in Potchefstroom geneem. Daar was nog drie ander pasiente met ligte tot matige beserings en is ook na nabye hospitale geneem.
Meiring sê die oorsaak van die ongeluk is onbekend, maar owerhede was op die toneel om te ondersoek.




