NWU-Junior Swemklub presteer in Polokwane
Elf swemmers van die NWU-Junior Swemklub het vanaf 7 – 9 April aan Swem Suid-Afrika se Vlak 2 Nasionale Streekskompetisie in Polokwane deelgeneem. Dié groepie entoesiastiese Pukkies het gedurende die afgelope swemseisoen hard voorberei om hul eweknieë uit Noordwes, Sentraal- en Oostelike Gauteng, Limpopo, Pretoria-omgewing (beter bekend as die North-ern Tigers), Mpumalanga, Namibië, Zimbabwe, Kenia, …
Elf swemmers van die NWU-Junior Swemklub het vanaf 7 – 9 April aan Swem Suid-Afrika se Vlak 2 Nasionale Streekskompetisie in Polokwane deelgeneem. Dié groepie entoesiastiese Pukkies het gedurende die afgelope swemseisoen hard voorberei om hul eweknieë uit Noordwes, Sentraal- en Oostelike Gauteng, Limpopo, Pretoria-omgewing (beter bekend as die North-ern Tigers), Mpumalanga, Namibië, Zimbabwe, Kenia, Tanzanië en Swaziland die stryd aan te sê in die water.
Anica Dennis het op die podium geboer met ’n gouemedalje in die 100m rugslag, silwer in 50m kruipslag en brons in beide die 50m en 200m rugslag items. Jenna-Marie Lee het bewys dat sy steeds ’n gerekende borsslag-swemmer in Noordwes is met goud in beide die 50m en 100m en silwer in die 200m item.
Jack Cameron het silwer om die nek gehang in die 100m Vlinderslag en brons in die 200m Individuele Wisselslag. Gina en haar broer Dicky Daly het onderskeidelik silwer en brons in die 50m Vlinderslag behaal, terwyl Megan Clouston met ’n brons in die 200m borsslag teruggekeer het.
Die Pukkies het veral geskitter in die aflosse met drie eerste plekke asook ’n tweede plek. Algeheel het die klub uiteindelik 13de uit 41 swemklubs geëindig.




