
Met Carike Keuzenkamp se stem wat “Hoeka Toeka, ja ja!” in die agtergrond sing het ’n groep passievolle en jolige mense van Potchefstroom en omliggende dorpe Saterdag 12 Mei die stad behoorlik rooi geverf tydens die Hoeka Toeka Watergatroete. Die roete is ‘n jaarlikse tradisie, geloods deur Potchefstroom Erfenis wat vanjaar spog met hulle vierde suksesvolle roete.

“Die Hoeka Toeka Watergatroete is ‘n inisiatief om die gemeenskap saam te bring en te motiveer om betrokke te raak by Potchefstroom se ryk geskiedenis en opwinding wat dit bied,” vertel die organiseerder, Karen Puren.
Twee groot busse, gedeeltelik geborg deur Midway, en die Shotgun! Shuttle Service het vanjaar seker gemaak dat al die erfenis liefhebbers tussen die beste watergate in Potch vervoer is.

Die busse was stampvol mense met baie gees en het vanaf die President Pretorius Huismuseum waar elkeen ’n aandenking en inligtingspamflet gekry het, vertrek. Die eerste stop was by Royal Tree Spa waar elkeen met ‘n verfrissende Gin en komkommerdrankie en peuselhappies bederf is.

Die tweede watergat was natuurlik die unieke Route 96 Brewery, die nuwe maar reeds bekende en gewilde bierbrouery in die stad. Die gaste het ’n craft bier van hul keuse gratis gekry en verder kon hulle kies-en- keur uit die groot verskeidenheid tuisgemaakte biere wat Route 96 self vervaardig.

Die volgende besoek was aan Vida Verde, ’n restaurant en kroeg met ‘n Kubaanse voetgangersatmosfeer, in die Suidelike deel van die stad. Die gaste het hulself gate uit geniet en oor ’n smullekker skemerkelkie heerlik saam gekuier.

Van daar af het die Koöperasie Kroeg en Kos die gaste ingewag met ’n stywe mampoer, terwyl die musiek van die trekklavier die mense se heupe los gemaak het. Gelukkig is daar ook heerlike pizza en koeksisters bedien vir diegene wat die mampoer maar swaar afgesluk het.

Die laaste stop was die alombekende Impala Hotel waar elkeen weer ’n shooter op die huis gekry het. Almal het lekker saam gedans en die platejoggie was vriendelik genoeg om ’n paar sokkietreffers te speel – spesiaal vir die Hoeka Toeka groep!
Nog foto’s:

















