NewsNews

Fifi se grootste droom ‘n waarheid met deursettingsvermoë

“Hy het my reggemaak vir wat ek moet wees. ‘It was all about God.’”

Elizabeth Katima, beter bekend as Fifi, het ‘n droom gehad om ‘n verskil te maak.
Fifi het as ‘n skoonmaker by Hoërskool Die Wilge begin, maar haar mede-kollegas het vinnig gesien sy het baie meer talent en sy het vanjaar ’n onderwysdiploma behaal.

Elizabeth Katima met haar trofee wat sy ontvang het vir beste skoonmaker.

Fifi het tussen haar daaglikse take as skoonmaker kinders help verstaan wat daar van hulle verwag word en baie keer as tolk vir die kinders opgetree.
Sy verduidelik dat baie van die kinders in die skool gereeld met taal sukkel en iemand nodig het om opdragte of basiese dinge in Setswana te verduidelik.
Sy het baie saam in die klasse gesit en verduidelik soos die klas aangaan. Sy het ook in die oggende klasse met godsdiens geopen en hul die Woord van God geleer.
Fifi se liefde vir onderwys het gespruit uit die sukses wat sy die kinders sien behaal het.
Sy het met haar sterk geloof met onderwysstudies begin. Omdat sy ook nie meer ‘n jong vrou is nie, het haar studieleiers haar aanbeveel om die kursus oor vier jaar te doen.
Tussen haar daaglikse take as skoonmaker, hulp in klasse en ma van twee, het sy haar studies voltooi en hoop om een van die dae voor haar eie klas te staan.
Buiten dat sy haar studies voltooi het, het sy vanjaar ‘n toekenning as beste skoonmaker ontvang. Sy tree ook op as administratiewe dame wanneer nodig.

“My hande staan vir niks verkeerd nie. Wat hulle ookal vra, help ek,” sê Fifi.

Fifi se sertifikaat wat sy ontvang het vir beste skoonmaker.

Haar prestasie skryf sy toe aan God. “Hy het my reggemaak vir wat ek moet wees. ‘It was all about God.’”
As daar een stuk wysheid is wat sy aan haar kinders kan oordra, is dat kennis jou weg is. As jy kennis het kan jy ver gaan en uit jou omstandighede styg.
In haar drie-en-twintig jaar as werknemer by die onderwysdepartement, het Fifi bewys dat as jy hard werk en jou alles gee, word jou drome waar.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button