Luiperds pak Vrystaat XV op die Fanie hierdie Vrydag
Dis eerste teen laaste wanneer die Luiperds die Vrystaat XV hierdie komende Vrydag, 1 Junie op die Fanie du Toit Sportgronde in die Supersport Uitdaagreeks aanvat. Hierdie twee spanne het tot dusver uiteenlopende seisoene beleef met die Luiperds wat na vyf wedstryde, nog nie een keer aan die wenkant is nie en die Vrystaat wat …
Dis eerste teen laaste wanneer die Luiperds die Vrystaat XV hierdie komende Vrydag, 1 Junie op die Fanie du Toit Sportgronde in die Supersport Uitdaagreeks aanvat.
Hierdie twee spanne het tot dusver uiteenlopende seisoene beleef met die Luiperds wat na vyf wedstryde, nog nie een keer aan die wenkant is nie en die Vrystaat wat nog onoorwonne is.
Die Luiperds het verlede Vrydag amper die Griekwas verras nadat hulle vir 65 minute in die wedstryd voorgeloop het. Die Griekwas het wel te veel energie gehad en met 46-31 gewen.
Die Luiperds se heelagter, Lungelo Goza was vol hardloopwerk en die haker en kaptein, Louis van der Westhuizen sowel as die stut, Joe Smith, was weer ysters. Die Vrystaat het nou weer hulle bure, die Griffons met 33-19 in ‘n harde stryd geklop.
Die staatmakers vir Vrystaat die seisoen is die losskakel, Ernst Stapelberg, sowel as die losvoorspeler, Jasper Wiese.
Volgens Luiperds afrigter, Jonathan Mokuena, fokus sy span nie Vrydag op die opponent nie maar eerder op hulle eie spel en hoe om dit op die dag so goed as moontlik te implementeer.
“Ons het ‘n paar taktiese veranderinge gemaak vir hierdie week en ons glo dit gaan ons help om op laasweek se vertoning te verbeter. Elke week is ons fasette beter, maar dan staan ons baie sagte drieë af.”
Die Luiperds se ervare agterspeler, Gerhard Nortier, begin sy eerste wedstryd op binnesenter met Gene Willemse wat heelagter toe skuif en Lungelo Goza wat die linkervleuel posisie in neem.
Die wedstryd skop om 15:00 af.
Luiperds span teen Vrystaat XV:
15. Gene Willemse, 14. Justin Newman, 13. Bradley Moolman, 12. Gerhard Nortier, 11. Lungelo Goza, Schalk Hugo, 9. Chriswill September, 8. HP Swart, 7. Johan Retief, 6. Gideon van der Merwe, 5. Walt Steenkamp, 4. Stairs Mhlongo, 3. Matimu Maganyi, 2. Chucky van der Westhuizen (kaptein), 1. Joe Smith.
Plaasvervangers: 16. Dane van der Westhuizen, 17. Ruan Grundligh, 18. Jaco Swanepoel, 19. Boela Venter, 20. Nkosana Mathaba, 21. Merlynn Pieterse, 22. Evardi Boshoff.





