
Drie gewapende rooftogte wat onlangs op die Bult gebeur het, is by die polisie aangemeld.
Volgens kapt. Mvula Chaka, polisiewoordvoerder, is daar in al drie gevalle vuurwapens gebruik.
Twee van die voorvalle het in Wilgenstraat op 23 en 25 Mei onderskeidelik plaasgevind. Die derde voorval was in Malherbestraat.
Volgens Chaka het al drie rooftogte dieselfde patroon gevolg. Dit was na 20:00 in die aand en al drie slagoffers was te voet op pad iewers heen.
“Die polisie kon daarin slaag om een verdagte in hegtenis te neem,” het hy gesê.
Volgens hom was ’n jong man Vrydagaand, 25 Mei omstreeks 23:30 op pad huis toe waarna hy deur twee mans in Wilgenstraat voorgekeer is. Een van die verdagtes het die slagoffer met ’n vuurwapen gedreig, terwyl die ander een hom van sy selfoon beroof het. “Gelukkig het daar ’n wit bakkie gestop en die twee verdagtes het gevlug. “Een van die verdagtes is in hegtenis geneem,” het Chaka gesê. In die ander twee voorvalle is selfone gesteel. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.



