Die polisie het Maandagaand op nagenoeg R140 000 se dwelms beslag gelê.
Volgens kapt. Mvula Chaka, polisiewoordvoerder, was lede besig met patrolliewerk op die N12.
“Hulle het ’n voertuig afgetrek waarin ‘n man en ‘n vrou was.
Volgens hom het hulle toestemming gevra om die voertuig en die vrou se handsak te deursoek.
Hulle het daarna ’n sak met sowat 500 gram se vermoedelik onwettige dwelms gevind.
“Die man en vrou is op aanklag van die besit van onwettige dwelms in hegtenis geneem. Daar word vermoed dat die dwelms “crystal meth” is,” het Chaka gesê.

Die vrou het glo vir polisie vertel dat die dwelms aan die man behoort.
Volgens Chaka sal Olisa Oleofu (35), ’n Nigeriese man en Shirley Mbambalala (21), ’n Suid-Afrikaanse burger, die volle mag van die gereg voel.
“Die stasiebevelvoerder het ao. Vernandt, sers. Mogoshane, konst. Seitshiro en konst. Sithole gelukgewens met die goeie werk wat hulle gedoen het.
“Hulle is voorbeeld om te volg, aangesien hulle seker gemaak het dat dwelms nie in ons gemeenskapslede se hande beland nie,” het Chaka gesê.




