
Die JB Marks munisipaliteit is onlangs deur Ratings Afrika aangewys as die munisipaliteit in die Noordwes-Provinsie wat die mees finansieel volhoubaar is.
JB Marks het ‘n punt van 57 uit 100 op die 2017 munisipale finansiële volhoubaarheidsindeks gekry.
Dit was die beste in die hele provinsie. Die swakste in die provinsie was Madibeng (Brits) wat slegs ses uit 100 gekry het.
In 2015 was die destydse Tlokwe munisipaliteit die beste in die provinsie met ’n telling van 68 uit 100.
Alhoewel JB Marks die beste in die Noordwes gevaar het, sê die Ratings Afrika-verslag dat Noordwes en die Vrystaat die twee provinsies is wat die swakste gevaar het.
“Munisipaliteite in hierdie provinsies het ernstige finansiële probleme,” lui die verslag. “Breedweg gaan dit nie goed in die provinsie nie.
“Om as die beste in Noordwes aangewys te word, beteken nie noodwendig dat die munisipaliteit ’n goeie baanrekord het nie,” het prof. André Duvenhage, politieke ontleder verbonde aan die NWU, gesê.
Volgens hom is die totale gebrek aan instandhouding in net Potchefstroom ’n aanduiding van hoe sleg dit eintlik gaan.
“As hierdie munisipaliteit die beste is, dan sidder ek om te dink hoe lyk dit in die slegste munisipaliteite. Ek is tog bly vir die munisipaliteit.
“Hopelik spoor dit hulle aan om beter dienste te lewer,” het hy gesê.
Volgens Hans Jurie Moolman, DA koukusvoorsitter, is JB Marks die eenoogkoning in die land van die blindes.
“Om bly te wees oor 57% vir JB Marks is soos om opgewonde te wees om matriek te slaag met ‘n 30% slaagsyfer,” het hy gesê.
Fanie du Toit, raadslid van die Vryheidsfront, glo ook nie noodwendig dat dit ‘n prestasie-punt is waarmee gespog moet word nie.
“JB Marks munisipaliteit is nie op hierdie stadium in ‘n gesonde finansiële situasie nie, inteendeel, die finansiële posisie is bra kranig,” het hy gesê.
Volgens hom is die stand van sake op hierdie stadium dalk erger as wat dit voorkom, aangesien raadslede nie van alle finansiële state en beleggings-saldo’s voorsien word nie.
Die munisipaliteit het teen druktyd nie reageer op die Herald se navrae nie.



