NewsNews

Distemper: Beskerm jou hond teen dié dodelike siekte

’n Dodelike hondesiekte bekend as Distemper wek tans groot kommer in Potchefstroom, aangesien daar van die begin van die jaar toenemend honde met dié siekte in die stad aangemeld is.

’n Dodelike hondesiekte bekend as Distemper wek tans groot kommer in Potchefstroom, aangesien daar van die begin van die jaar toenemend honde met dié siekte in die stad aangemeld is.

Dr. Stallone Teterra, ’n veearts by Potchefstroom Animal Welfare Society (PAWS), sê dat hulle van vroeër vanjaar ’n toename in kliniese tekens van Distemper by veral straathonde en honde van die nedersettings buite Potchefstroom opgemerk het.

Hy sê dat hulle wel probeer om die siekte onder beheer te hou deur honde wat gediagnoseer is of selfs vermoedelik hierdie siekte kan hê, uit te sit voor dit in kontak kan kom met enige ander diere om die verspreiding van Distemper in PAWS se hokke te keer.

Terrera sê dat hierdie virus geen klassieke behandeling of genesing het nie en daarom is daar niks wat vir honde met Distemper gedoen kan word nie.

Die virus het wel verskillende stamme en die soort stam waarmee die hond besmet is, sal bepaal of die hond sal oorleef of nie. ’n Hond met Distemper se oorlewing hang ook af van die ouderdom en immuunstelsel van die hond. Babahondjies en ouer honde met ’n swak immuunstelsel is veral vatbaar vir die virus.

Terrera sê dat dit baie belangrik is vir eienaars om hul honde te laat inent, aangesien dit kan keer dat die hond siek word van die virus. Honde wat hul inentings gekry het, se kanse van oorlewing is ook beter as die wat geen inentings in hul lewens gehad het nie.

“Behandeling kan die simptome en intensiteit daarvan verminder met die hoop dat die hond se immuunstelsel die infeksie sal beveg en dat die hond dan sal herstel,” sê Terrera.

Hy sê dat dit nie die medisyne is wat die virus doodmaak nie, maar die hond se immuunstelsel self. Die medisyne help net om die hond se immuunstelsel te versterk en om die simptome te verlig.

“Honde wat wel herstel, kan later in hul lewens aan ander sentrale senuweestelselversteurings soos chorea (aanhoudende senuwee spiertrekke), ly.

Distemper word deur middel van hoes of nies oorgedra en is hoogs aansteeklik. Dit word ook oorgedra deur direkte kontak met ontlasting, urine of speeksel.

“Dit kan ook indirek oorgedra word deur kos- en waterbakke te deel,” sê Terrera.

Die virus kan wel doodgemaak word deur die omgewing waarin die hond woon, met algemene huishoudelike skoonmaakmiddels te ontsmet, maar as die hond eers besmet is, gaan dit nie ’n verskil maak nie. Volgens Terrera is Distemper ’n multisistemiese siekte en tas dit meer as een stelsel in die liggaam aan. Dit sluit in respiratories, urogenitaal, gastro-intestinaal sowel as die senuweestelsel.

Tekens wat na vore kom wanneer van die stelsels in die liggaam besmet is sluit in koors, ’n waterige neusafskeiding, ’n slymerige neus- en oogafskeiding, aanhoudende nies en hoes, ’n gebrek aan eetlus, braking en diarree.

By meer ernstige gevalle is stuiptrekkings en neurologiese afwykings ook tekens. Terrera sê dat wanneer ’n hond begin om enige van die simptome te wys, eienaars dadelik hul hond na ’n veearts moet neem.

Dr. Douw van der Nest van Centraal Veearts in Potchefstroom sê dat daar nog geen gevalle van Distemper by hulle aangemeld is nie. Hy sê wel dat honde wat van die straat af opgetel word, dadelik hul inentings moet kry en eers vir minstens twee weke in kwarantyn geplaas moet word om ’n moontlike epidemie te verhoed.

Dr. Martin Jordaan van Bult Dierekliniek sê dat hulle vanjaar nog net twee honde ingekry het met Distemper. Die een was ’n hondjie wat by PAWS aangeneem is en die ander van Ikageng.

Hy sê dat Distemper nie in die stadium ’n probleem in die stad self is nie, aangesien die meeste hondeienaars hul honde laat inent. Die groot probleem is in Ikageng waar mense soms nie kan bekostig om hul honde te laat inent of steriliseer nie.

“Ek dink ’n plek soos PAWS moet ’n projek loods om geld in te samel sodat die honde in Ikageng gesteriliseer kan word, want as dit net eers gebeur sal dit reeds ’n groot verskil maak aangesien babahondjies die siekte baie makliker optel,” sê hy.

Hy sê ook dat as die gemeenskap van Potchefstroom geld kan insamel sodat die honde in Ikageng inentings kan kry, sal dit die verspreiding van Distemper moontlik bekamp.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button