NewsNews

Kanker-pasiëntjie (4) vlieg hoog bo die wolke

Ruben Bamberger (4), wat akute limfoblastiese leukemie het, se droom het op Saterdag, 23 Junie waar geword toe hy al oor Potchefstroom in ’n vliegtuig kon vlieg.

Ruben Bamberger (4), wat akute limfoblastiese leukemie het, se droom het op Saterdag, 23 Junie waar geword toe hy al oor Potchefstroom in ’n vliegtuig kon vlieg. Ruben se verjaarsdag was in die week en mense van verskeie stede het gekom om seker te maak dat hy nooit sy vierde verjaarsdagpartytjie by die Potchefstroom-vliegveld gaan vergeet nie.

Volgens Ruben se ma, Louré Bamberger, was Ruben nog altyd ’n baie gesonde en aktiewe seuntjie. In Maart vanjaar het sy ouers agtergekom dat Ruben snaakse blou kolle op sy bene kry.

Ruben saam met sy ma Louré, pa Richard, bababoetie Elan en oupa Louis. Foto: Marianke Saayman
Ruben saam met sy ma Louré, pa Richard, bababoetie Elan en oupa Louis. Foto: Marianke Saayman

Hulle het hom vir bloedtoetse geneem en hy is toe met akute limfoblastiese leukemie gediagnoseer. Ruben het dadelik met standaard chemoterapie begin. Na ’n maand moes hy oorgaan na ’n hoë-risiko chemo-plan, aangesien hy nie so goed reageer het op die standaard chemo soos verwag is nie.

“In dié stadium gaan dit goed met sy behandeling. Daar gaan nou nog ’n beenmurgtoets gedoen word om vas te stel of die behandeling waarop hy die afgelope drie maande was wel werk, maar ons glo dit sal,” sê Louré.

Ruben se droom het waar geword.  Foto: Lucette Labuschagne
Ruben se droom het waar geword. Foto: Lucette Labuschagne

Ruben moet vir 12 maande behandeling kry waartydens sy immuunstelsel te swak is vir hom om skool toe te gaan. Na die 12 maande sal hy weer kan skool toe gaan en sal hy net een keer per maand vir die volgende drie jaar chemo moet kry.

“As hy binne die drie jaar skoon kom van die kanker, sal dit nie sommer weer terugkom nie, en sal hy normaal weer kan aangaan met sy lewe,” vertel sy.

“Ons het geleer dat al is die prognose baie goed, ons nie daarop moet vertrou nie. Ons vertrou op Jesus want Hy is die een wat Ruben gaan genees,” sê Ruben se pa Richard.

Ruben het ’n passie vir vliegtuie en sy droom was nog altyd om te kon vlieg. ’n Eerstejaar student aan die PUK, Michelle Smit, het besluit om vir Ruben se verjaarsdag te reël dat hy in ’n vliegtuig kan vlieg.

Ruben maak sy geskenke oop.  Foto: Marianke Saayman
Ruben maak sy geskenke oop. Foto: Marianke Saayman

“Daar sou een vlieënier met sy vliegtuig kom, maar toe versprei die boodskap en voor ons ons oë kon uitvee, was daar so baie mense betrokke,” sê Michelle. Meer as 60 vliegtuie het van oral oor die land na Potchefstroom gekom om die dag saam met Ruben te spandeer en fondse te gee vir sy behandeling.

Die vliegtuig-partytjie is by die Potch Sweeftuigklub se klubhuis gehou. Alle fondse wat op die dag ingesamel is, word gebruik om Ruben se mediese kostes te help dek.

Deel van Ruben se fondsinsameling is deur die Spekboom-projek waar klein spekboompies verkoop word teen ’n donasie vir kinders met kanker.

https://www.citizen.co.za/potchefstroom-herald/49504/kyk-vierjarige-met-kanker-se-droom-word-waar/

Die gesin bedank al die borge en almal wat hulle ondersteun in hierdie tyd. “Ons familie, vriende en kollegas ondersteun ons werklik baie. Daar is ook spesifieke mense wat anoniem wou bly, maar ons finansieel help,” sê Louré.

“Ons het gedink ons is nuut in Potch en dat ons nog nie mense ken nie, maar toe hierdie gebeur, het ons besef hoe baie die gemeenskap hier vir mekaar omgee,” sê sy.

Enige iemand wat ’n bydrae wil maak deur ’n spekboom te koop, kan Michelle by 076 684 8250 kontak of in die volgende rekening ’n donasie maak:

Loure Bamberger
FNB
Rekeningnommer: 62276331833
Takkode: 250655
Verwysing: SPEKBOOM + NAAM

Louré vra ook as enige iemand kans sien om vir Ruben enige tipe lesse by hul huis kan kom aanbied, hulle haar asseblief moet skakel.

“Omdat hy nie kan skool toe gaan nie moet ons hom by die huis besig hou. As iemand dalk vir hom kuns-, musiek of enige ander lesse kan kom aanbied, sal dit ons baie help.”

Skakel Louré by 079 877 1477.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button