‘n Droom het op Vrydagoggend 27 Julie waar geword met die bekendstelling van ‘n tweede Baby Safe in Potchefstroom – hierdie keer in Ikageng self.
Dit word gedoen onder die bekwame hande van Jaco en Susan Fouché, stigters van Vessels of Mercy, ‘n niewinsgewende organisasie wat ‘n huis van veiligheid bied vir verwaarloosde kinders wat deur ‘n hofbevel uit hul ouerhuise verwyder word. Die huis verskaf ‘n veilige hawe vir die kinders tot hulle uitgeplaas kan word na familie, pleegouers, ‘n kinderhuis of beskikbaar is vir aanneming.
In April 2012 is die eerste Baby Safe in Potchefstroom naby die taxi staanplekke geopen, maar verskeie uitdagings is ervaar om dit suksesvol te bedryf. Noodgedwonge is die projek na ‘n paar maande gestaak.

“Een van die grootste uitdagings by die taxi staanplekke was dat die vrywilligers binne drie minute die baba daar moet uithaal en hulle is nie self op die perseel nie,” het Susan gesê. “Die ideaal sou wees as ons ‘n Baby Safe by ons plek van veiligheid kon hê.” Die droom van ‘n veilige, wettige baba-kluis leef al lank in die stigters se harte en met die hulp van ER24, Mooirivier Beskerming, Potchefstroom-hospitaal en ‘n donasie om hul eie eiendom te koop, het dit nou ‘n werklikheid geword.
Die doel van die baba-kluis is nie om moeders met ongewenste swangerskappe aan te moedig om babas te verwerp nie, maar juis om ‘n veilige ‘plek’ te skep waar ‘n baba gelos kan word indien ‘n moeder geen ander uitweg het nie. Sodra die baba in die baba-kluis geplaas word, gaan die alarm in die huis af en kan daar dadelik omgesien word na die kleintjie. ER24 word ontbied en kan die baba na Potchefstroom-hospitaal vervoer indien nodig.
“Ons voorsien baie minder probleme as met die vorige een, met dié dat ons nou personeel ook op die perseel het,” het Susan gesê. Vessels of Mercy spreek ook hul dank uit teenoor elke individu en die gemeenskap wat saamstaan om hierdie droom ‘n werklikheid te maak.
Daar bly steeds ‘n langtermyn behoefte aan weggooi doeke, babamelk en –kos en toiletware vir babas en kleuters. Finansiële bydraes word ook benodig om lopende uitgawes te dek. Vir navrae kan Susan, die direkteur, by 082 048 6309 gekontak word. Die Baby Safe kan gevind word by Molope straat 19768, Uitbreiding 6 in Ikageng. Daar is ook ’n 24 uur noodnommer kan geskakel kan word vir hulp. 080 005 5555 / 018 297 4000.




