
“Ons wil nie die munisipaliteit se werk oorneem nie, ons wil net iets goed doen vir Potchefstroom.”
So vertel MD Coetzee, stigter van Dipuo Tsa Botle for God, ‘n organisasie wat ’n positiewe bydrae in Potchefstroom wil maak.
Volgens Coetzee het hulle begin deur die eiland op die hoek van Govan Mbeki- en Chief Albert Luthulirylaan weer mooi te maak.
Coetzee, sy vrou en twee werkers het die bosse gesny, onkruid uitgehaal en die strepe in die pad oorgeverf.
Volgens Willie Maphosa, munisipale woordvoerder, is dit onwettig vir mense om verkeerstekens op te rig of te verf sonder die toestemming van die raad.
“Dit kan baie gevaarlik wees en tot lewensverlies lei as dit nie reg gedoen is nie,” het Maphosa gesê.
Volgens hom is die munisipaliteit se hulpbronne baie beperk en daarom neem dit langer om by take uit te kom. Volgens Coetzee is die kantoor van die munisipale bestuurder ingelig oor wat hulle beplan om te doen. “Ons is nie ‘n politieke organisasie nie. Ons maak net die strepe en lyne wat daar was duideliker. Die positiewe wat uit die projek gekom het, is merkwaardig,” vertel hy.
Volgens hom is hulle oop vir enige voorstelle van die munisipaliteit om hulle by te staan met kennis oor hoe dinge op die regte manier gedoen moet word.
“Mense het, na hulle gesien het wat ons doen, uit hulle eie met verfraaiingsprojekte begin,” vertel Coetzee. Die organisasie bied werk vir mense wat werkloos is en terselfdertyd word die stad verfraai. Verskeie maatskappye het ook al ingestem om met fondse te help. “Dit sal sleg wees as die projek nie meer voortgaan nie,” sê Coetzee.
“Ons wil help om Potchefstroom beter te maak. Ons kan die munisipaliteit ondersteun om dit reg te kry,” sê hy. Die groep gaan elke Saterdag tussen 09:00 en 11:00 op verskillende plekke werk.
“Dit kos niks, dit is oop vir almal wat wil help. Mense kan ons Facebookblad, DTB dophou vir waar ons volgende gaan wees,” het hy gesê.




