
‘n Man is Sondagmiddag (9 September) omstreeks 14:00 tydens ‘n ongeluk op die hoek van Nelson Mandela-rylaan en Beyers Naudestraat dood.
Volgens Russel Meiring, woordvoerder van ER24, is drie voertuie by dié kruising in mekaar vas.
Paramedici van ER24 het op die toneel gekom waar hulle die voertuie in die middel van die pad aangetref het.
‘n Man wat glo in sy 60’s was, was nog in een van die voertuie vasgevang. Volgens Meiring was daar niks wat paramedici vir hom kon doen nie en hy is dood op die toneel verklaar.
Drie ander mense is deur paramedici behandel. Een van dié drie is in ‘n kritieke toestand na Potchefstroom Hospitaal geneem vir verdere behandeling.
Die presiese oorsaak van die ongeluk is onbekend. Die polisie en verkeer was op die toneel om verdere ondersoek in te stel.



