NewsNews

Hills gesin versit berge vir gemeenskap kinders

Hills sê hulle het uit hul eie sak met 30 kinders begin en hulle help tans 120 kinders. Soms is die finansies maar skraps en dan kan hulle aan die kinders net brood met grondboontjiebotter en konfyt verskaf.

Zoë Taljaard
“Die Here kyk nie na die uiterlike nie, Hy kyk na elke individu se hart.” So sê Layton Hills, die stigter van Safe Haven, ’n nie-regeringsorganisasie in Promosa.
Safe Haven word bestuur deur Layton en sy vrou, Cleopatra.
Die organisasie, wat al drie jaar bestaan, help om aan behoeftige kinders in Promosa kos en klere te voorsien. Hulle lei ook die kinders geestelik op. Die egpaar het eers deur die kerk met hierdie organisasie begin, maar bestuur dit nou alleen.
Hills sê hulle het uit hul eie sak met 30 kinders begin en hulle help tans 120 kinders. Soms is die finansies maar skraps en dan kan hulle aan die kinders net brood met grondboontjiebotter en konfyt verskaf.
Vir sommige van die kinders is dit egter die enigste kos wat hulle vir die dag sal kry. Die Hill’s sê ’n opname wat hulle gedoen het toon daar is ’n behoefte aan kennis in hierdie gemeenskap. Ouers verskaf volgens hulle nie altyd leiding aan die kinders nie en daarom beland van hulle dikwels op straat.
Die doel van hulle organisasie is dat elke kind na hulle ouerhuis moet teruggaan. Layton en sy vrou probeer om ’n verskil op elke kind se lewenspad te maak. Hulle fokus op laerskoolkinders omdat dit volgens hulle makliker is om op hierdie ouderdom die kinders se gedagtes te vorm.
Layton sê sy beroep by die Suid-Afrikaanse Polisiediens het beslis ’n invloed op hom gehad om met hierdie inisiatief te begin. Hy het deur sy werk na straatkinders uitgereik. Sodoende het hulle die idee gekry om Safe Haven te begin.
“Geloof is absoluut die fokus van hierdie organisasie,” sê Layton. Sonder geloof sou dit nie moontlik gewees het nie. Layton fokus absoluut op God en vertrou Hom ten volle om elke keer te voorsien in alles wat hulle vir die kinders probeer doen.
Safe Haven gaan met die hulp van Just Tiffany Gastehuis en Midway Busdiens die kinders op 27 November na die Carols by Candlelight-fees neem. Hulle bedank die publiek vir die ondersteuning en bydraes deur die jare. Enigiemand wat wil help kan Layton of Cleopatra skakel by: 078 3547485 /078 282 1809 of per e-pos by safehavenpotch@gmail.com

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button