NewsNews

Polisie ondersoek moord na Potch pa sterf

Die polisie het Sondag (2 Desember) die liggaam van ’n Potchefstroomse man in die Vaalrivier naby Villiers gekry.

Die polisie het Sondag (2 Desember) die liggaam van ’n Potchefstroomse man in die Vaalrivier naby Villiers gekry.

Gerrit Schoonhoven (53), ’n Potchefstroomse pa wat die afgelope jaar by ’n myn in Boksburg gewerk het, was sedert Donderdag (29 November) vermis.
Gerrit se seun, Gerrit junior, sê dat hy Woensdag deur die loop van die oggend nog met sy pa gepraat het, maar toe Gerrit se ma, Priscilla, hom Woensdagaand probeer skakel, was sy foon af.
“Ek het hom Donderdag weer probeer skakel, maar sy foon was steeds af,” sê sy. Toe Priscilla teen Vrydag nog nie van haar seun gehoor het nie, het sy Gerrit se werkgewer geskakel. Gerrit het nie Donderdag of Vrydag vir werk opgedaag nie.
“Ons het toe al die hospitale en polisiestasies gebel, maar niemand het hom gesien nie,” sê Priscilla.
Dit is eers toe sy Sondag die oproep kry dat die polisie haar seun gevind het, dat sy besef het sy gaan hom nooit weer lewendig sien nie.
Priscilla sê dat ’n boer in Villiers Gerrit se liggaam in die Vaalrivier gekry het. Die polisie ondersoek tans ’n saak van moord.
“Hulle vermoed hy is verwurg en in die Vaaldam gegooi. Sy liggaam moes stroomaf gegaan het tot in Villiers,” sê Priscilla. Gerrit se motor, ’n silwer Jetta 5 met nommerplaat JRD913 NW, is steeds nie opgespoor nie.
Gerrit het in Potchefstroom grootgeword en by HTS skoolgegaan. Volgens sy ma was hy ’n ontsettende hardwerkende man wat nooit laat was vir werk nie en al sy kollegas was mal oor hom. “Baie dankie vir almal se oproepe en boodskappe die afgelope twee weke, u weet nie wat dit vir my en my familie beteken nie,” sê Priscilla.
Gerrit laat sy ma Priscilla en twee seuns, Gerrit (29) en Wessels (32) agter.
Gerrit se begrafnis word op Vrydag 14 Desember om 14:00 vanuit die Ou Apostoliese Kerk in Molenstraat (agter Bult Spar) gehou.

Related Articles

Back to top button