NewsNews

Wie sê diere gaan nie hemel toe nie?

Die feesgety is om die draai en daarmee saam kom vuurwerke en mense wat hul troeteldiere alleen tuis laat terwyl hulle met vakansie gaan.

Zoë Taljaard

Die feesgety is om die draai en daarmee saam kom vuurwerke en mense wat hul troeteldiere alleen tuis laat terwyl hulle met vakansie gaan.

Potchefstroom Animal Welfare Society (PAWS) vra dat mense voorsiening moet maak vir hul troeteldiere hierdie jaar.

Jaarliks word daar talle verwarde en selfs beseerde troeteldiere in die strate gevind en die getalle neem toe oor Desember, veral wanneer feesgangers vuurwerke skiet om die nuwe jaar te verwelkom.
PAWS sal hierdie jaar nie hokke kan verskaf vir mense wat met vakansie gaan se troeteldiere nie.

“Ons het op Oujaarsaand te veel troeteldiere wat uit hul erwe uitkom vir wie ons hokke moet oophou, ons kan nie bekostig om van ons hokke hierdie jaar uit te verhuur aan mense wat met vakansie gaan se troeteldiere nie,” het Herman van der Sluis, bestuurder van PAWS gesê.

Van der Sluis wil mense maan om hul troeteldiere tydens vuurwerkvertonings binnenshuis te hou. Hy sê dat hoewel die troeteldiere by PAWS ook geraak word deur die vuurwerke, dit nie so erg soos in die stad is nie. Die diere sal dus nie die vreeslike rumoer gedurende die nuwe jaar hoef te verduur nie, aangesien dit aan die buitegrense van die stad is.

Daar is talle katte van groot tot klein wat wag om aangeneem te word. Foto’s: Zoë Taljaard
Daar is talle katte van groot tot klein wat wag om aangeneem te word. Foto’s: Zoë Taljaard

PAWS personeel gaan weer vanjaar op Oujaarsaand deur die strate van Potchefstroom ry om enige troeteldiere wat weens die vuurwerke uit hul erwe gevlug het, veilig na PAWS toe te neem. Enige vrywilligers wat dié aand kan uithelp kan PAWS skakel.

Van der Sluis vra dat troeteldiereienaars moet reël met iemand om na hul diere te kyk as hulle met vakansie gaan. PAWS kan ook geskakel word om mense te verwys na iemand wat hierdie dienste kan lewer.

Van der Sluis vra die gemeenskap om nie troeteldiere as ’n geskenk vir iemand anders te koop of aan te neem nie. Troeteldiere wat op hierdie wyse gekoop of aangeneem word, is gedurig ongewens en beland dan weer by PAWS in ’n hok.

“Mense kan eerder vir hulself ’n troeteldier kom aanneem,” sê Van der Sluis. PAWS huisves tans sowat 250 troeteldiere waarvan sowat 190 honde is. Op die oomblik benodig PAWS komberse, katkos en sagte hondekos. Enige donasies of skenkings is welkom en word innig waardeer.

Inwoners wat die vakansie met die diere by PAWS wil kom speel is welkom om PAWS te besoek.

Vrywilligers wat bereid sal wees om op Oujaarsaand die strate saam met PAWS te patrolleer, kan PAWS skakel by 071 681 9264 of (018) 294 3856 vir meer inligting.

PAWS sal op die volgende datums toe wees, maar daar sal altyd iemand op die perseel wees om na die troeteldiere om te sien.

• 16 Desember 2018 – Toe
• 17 Desember 2018 – Toe
• 24 Desember 2018 – Maak 12:00 toe
• 25 Desember 2018 – Toe
• 26 Desember 2018 – Toe
• 31 Desember 2018 – Maak 12:00 toe
• 1 Januarie 2019 – Toe

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button