President Cyril Ramaphosa se ontmoeting gister met boere, sakelui en akademici op Stellenbosch was ‘n skaamtelose sjarme-offensief.
So het die DA se hoofsweep John Steenhuizen reageer nadat President Cyril Ramaphosa Dinsdag (09 April) met boere, sakelui en landbouorganisasies in Stellenbosch vergader het.
“Sy uitsprake tydens hierdie byeenkoms oor grondonteiening sonder vergoeding het weer gewys hoe die president sy beginsels aanpas afhangende van die gehoor wat hy toespreek,” het Steenhuizen gesê.
Ramaphosa het gister aan boere verseker dat grondhervorming sal plaasvind “ingevolge die oppergesag van die Reg en die Grondwet”.
“Hy en die ANC is die grootste voorstanders van die wysiging van Artikel 25 van die einste Grondwet om voorsiening te maak vir die onteiening van grond sonder vergoeding. Die president se oggend- en aandpraatjies stem nie ooreen nie,” het hy gesê.
Die president het ook ‘n beroep gedoen op jong wit Suid-Afrikaners om nie die land te verlaat nie en gekoer oor die belangrike rol wat wit Suid-Afrikaners in die land speel.
“Dit is dieselfde Ramaphosa wat in die Parlement gesê het “om wit te wees beteken dat jy die Apartheid regime ondersteun het. President Ramaphosa, u flous ons nie. ” het Steenhuizen gesê.



