Baba met gesplete lip steeds in intensiewe sorgeenheid
Baba Liandrie Swartz wat op Vrydag, 27 September met 'n unilaterale gesplete lip en verhemelte gebore is, is steeds in die instensiewe sorgeenheid van Potchefstroom Mediclinic Hospitaal. Volgens haar ma, Pauline, kan Liandrie nog nie huis toe gaan nie, omdat sy sukkel om self te drink.
Baba Liandrie Swartz wat op Vrydag, 27 September met ‘n unilaterale gesplete lip en verhemelte gebore is, is steeds in die instensiewe sorgeenheid van Potchefstroom Mediclinic Hospitaal. Volgens haar ma, Pauline, kan Liandrie nog nie huis toe gaan nie, omdat sy sukkel om self te drink.
Liandrie is met ‘n spleet in haar lip, harde en sagte verhemelte gebore. ‘n Ortodontis in Pretoria het verlede Saterdag vir Liandrie ‘n spesiale mondplaatjie gemaak wat die gaping in haar verhemelte toemaak. Daarsonder vloei die melk na haar neus.
“Sy moet die plaatjie permanent inhou anders groei haar mondjie skeef. Na die maak van die plaatjie was Liandrie se mond en lip baie geswel en wou sy aanvanklik glad nie drink nie”, vertel Pauline. Dit het haar ‘n rukkie geneem om weer te begin drink, maar sy word baie gou moeg. Sy drink tans net 30 ml melk op ‘n slag waar sy eintlik 60 ml moet inkry, daarom is sy steeds op buisvoeding.

Omdat Liandrie so gou moeg word, het die dokters gedink sy kan dalk ‘n hartdefek hê. Gelukkig het toetse die teendeel bewys. Pauline bly steeds permanent saam met haar baba in die hospitaal. Pa Juan en sussie Lerieke (3) kom kuier elke dag vir ma en sussie in die hospitaal.
Pauline en en haar man, Juan moet verskeie fondsinsamelingsprojekte loods om genoeg fondse in te samel vir drie operasies wat nodig is om baba Liandrie se mondjie te herstel. Vriende en familie het saamgestaan om ‘n gholfdag op 19 Oktober by die Landboukollege te hou sodat onkostes vir die eerste operasie gedek kan word.
Die Swartze se staats mediese fonds dek slegs ‘n baie klein bedrag van die operasieonkostes. Die eerste operasie herstel die sagte verhemelte en vind op vyf maande plaas. Die koste van dié operasie is R25 000. ’n Paar maande na die eerste operasie word die harde verhemelte en lippie geopereer, wat R44 000 kos. Die Swartze moet R28 000 hiervoor betaal. Die derde operasie waarin die neusie reggetrek word, kos R15 000 waarvan hulle R12 000 moet betaal.
Na raming sal die gholfdag R17 000 insamel. Potchefstromers wat nie gholf speel nie, en graag ook ‘n skenking wil maak, kan dit in die volgende bankrekening inbetaal:
LJ Swartz
Nedbank
Tjekrekening
Nr. 119 477 7996
Takkode 198 765
* Volgens ‘n mediese webwerf, Deutsche Cleft Kinderhilfe, vind die gesplete lip en verhemelte gedurende die vierde week van die embrio se ontwikkeling plaas wanneer die verskillende dele van die gesig heg. Dit begin by die buitenste gedeelte en beweeg na binne.
As die embrio se ontwikkeling gedurende hierdie tydperk versteur word, sal die lae weefsel nie volledig heg nie.
Hoewel die dokters baie seker is dat die oorsaak van Liandrie se gesplete lip geneties van aard is (haar niggie se baba is ook met ‘n gesplete lip gebore), kan daar medies nog nie presies vasgestel word waarom gesplete lip en verhemelte voorkom nie.
Volgens navorsing verhoog die voorkoms van gesplete lip en verhemelte ook wanneer eksterne faktore soos besoedeling van die omgewing, gifstowwe in voedsel, suurstoftekort by die embrio of wanvoeding by die ma (tekort aan foliensuur en vitamien C) voorkom.



