
’n Vrou is Saterdagoggend, 5 Oktober dood en dertien mense beseer tydens ’n kop-aan-kop-botsing op die N12 tussen Potchefstroom en Fochville.
Volgens Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het paramedici net voor 01:00 Saterdagoggend op die ongelukstoneel waar die vrou se bakkie en ’n taxi gebots het, aangekom.
Meiring sê met hulle aankoms was daar reeds baie mense op die toneel. Paramedici het die vrou, wat in haar twintigerjare is, se liggaam binne die bakkie gekry. Die vrou is op die toneel dood verklaar.
Dertien ander mense het matige tot ernstige beserings opgedoen en is op die toneel behandel voor die wat ernstig beseer is, na verskeie provinsiale hospitale geneem is.
Die oorsaak van die ongeluk is nog onbekend. Plaaslike owerhede was op die toneel vir verdere ondersoek.
Die Herald kon nog nie vasstel wie die oorledene is nie.



