Romanseskrywer se tiende boek bekendgestel
Didi Potgieter skryf liefdesverhale en Woensdag, 20 November is haar tiende boek, Liefde vir 'n liefling, bekendgestel.

Didi Potgieter skryf liefdesverhale en Woensdag, 20 November is haar tiende boek, Liefde vir ‘n liefling, bekendgestel. Die verhaal, wat in New York afspeel, was die inspirasie vir die atmosfeer by die Claassen en Company venue – langsteel glase vonkelwyn, jazz agtergrondmusiek en gevulde bagals het die gaste laat voel asof hulle net sowel in Manhattan kon wees.
Liefde vir ‘n liefling is die sesde boek in Didi se reeks wat oor die Parker-familie handel. Dit het al die bestanddele vir ‘n lekkerlees intrige – ‘n ryk heldin, Tilla, wat ‘n liefdesterleurstelling beleef, ontmoet vir Sean, ‘n onweerstaanbare pediatriese onkoloog wat aanvanklik nie in haar belang stel nie. Nogtans verdiep hul verhouding totdat hulle nie sonder mekaar kan lewe nie. Dan gebeur daar iets ondenkbaars wat Tilla dwing om ‘n ingrypende besluit te neem…
Didi wat haar hele lewe lank op Potchefstroom bly, skryf liefdesverhale in haar kop al vandat sy kan onthou. Sy het ‘n honneursgraad in BA.Tale met skryfkuns en vertaalkunde by die Noordwes Universiteit verwerf. Haar finalejaarsopdrag het haar gedwing om haar intriges op papier te waag.
Sy skryf graag by haar gunsteling koffiewinkel, deMilko, op die bult en doen deeglik navorsing voordat sy wegval. Vir die Parker-reeks het sy baie nagelees oor New York en selfs ‘n gebou uitgeteken waar die grootste gedeelte van die verhaal afspeel. Sy hoef nie oor haar karakters te wroeg nie, hulle meld hulle spontaan by haar aan en dan loop die storie sy eie pad.
Hoewel daar geglo word skrywers mag nie hulle storie vooraf vir iemand vertel nie, steur Didi haar nie daaraan nie. Sy vertel die storielyn aan ‘n goeie vriendin wat insette kan lewer en dan verdeel sy haar verhaal in hoofstukke. “Ek deel die hoofpunte ook met my man, maar dan praat ek gewoonlik met myself”, lag sy breed. Daarna las sy die hele storie aanmekaar. Haar vriendin proeflees haar verhaal weer en wys dele uit wat bietjie te onrealisties is.
Roetine is vir Didi baie belangrik, maar omdat sy ‘n gesin het, werk dinge nie altyd uit soos sy beplan nie. Dan wyk sy maar af en haal later weer in. Gelukkig werk sy goed onder druk. Haar doelwitte vir elke dag is die hoeveelheid woorde wat sy per dag skryf.
Oor mense wat hulle neuse optrek vir romantiese verhale is Didi op ‘n goeie plek in haar lewe. Sy wen die ROSA (Romance writers Organisation of South Africa) Imbali-toekenning met Liefde vir ‘n Ridder en was al twee keer ‘n finalis vir die ATKV-Woordveertjieprys. Sy steur haar steur haar nie meer aan die snobs nie. “Ek is nie meer vyandig of verdedigend nie” lag die vriendelike, sensuele brunet (al die pad bank toe) want haar boeke verkoop baie goed.



