Van die redakteur: Die Herald se agenda vir 2020
Die Herald is al meer as een keer daarvan beskuldig dat die koerant 'n agenda teen iemand dryf.
Die Herald is al meer as een keer daarvan beskuldig dat die koerant ‘n agenda teen iemand dryf.
Gewoonlik groot instansies soos die munisipaliteit, is vinnig om op dié trein te klim. Gewoonlik is dit wanneer dinge gepubliseer word waarvan die spesifieke instansies nie hou nie. Iets wat hulle so effens sleg laat lyk. Beteken dit automaties dat daar ‘n agenda teen die instansies gedryf word?
As mense ongelukkig is oor besluite wat by groot instansies soos byvoorbeeld die NWU geneem word, en die Herald berig daaroor, is daar dan ‘n agenda teen dié instansie?
As die munisipaliteit nie eties met belastingbetalers se geld werk nie, en die Herald berig week na week daaroor, is dit ‘n agenda wat gedryf word?
Die kort antwoord is nee, daar is geen agenda teen die instansie nie. Almal wil hê groot instansies in die dorp moet floreer. Hoe beter dit gaan met groot werkgewers in Potchefstroom, hoe beter gaan dit met die mense van die stad.
Daarom gaan daar niks verander in 2020 in terme van die Herald se “agenda” nie. Dit is al sedert 1908 dieselfde, toe die eerste uitgawe van die Herald uitgekom het.
As die waghond van die gemeenskap moet ons aanhou soos hulle in Engels sê, “speak truth to power”. Ons sal aanhou om die geskiedenis van die stad op te teken en te verwoord. Die goed sowel as die sleg. Die koerant is geanker in die gemeenskap en sal volhou om jou sê te sê.
Dankie vir almal se ondersteuning deur die jaar en mag almal in Potchefstroom ‘n veilige feestyd geniet.



