‘n Franse atleet wat ‘n week gelede by ‘n gastehuis in Potchefstroom tuisgegaan het, en positief vir die Koronavirus getoets het, is steeds die enige bevestigde geval in die stad.
Brig. Vishnu Naidoo, die nasionale woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), het bevestig dat die atleet Dinsdag, 24 Maart vanaf die OR Tambo lughawe teruggevlieg het Frankryk toe voordat die nasionale staat van inperking ingestel is.
Teen Woensdag, 1 April het die provinsiale woordvoerder van die department van gesondheid, Tebogo Lekgethwane, bevestig dat daar agt positiewe gevalle in die Noordwes Provinsie aangemeld is, waarvan een geval in Tlokwe (Potchefstroom), een in Mahikeng, een in Bloemhof en vyf in Rustenburg is.
Volgens die eienaar van die gastehuis, wat anoniem wil bly, het die atleet Sondag, 15 Maart by die gastehuis ingeboek en is hy drie dae later vir die virus getoets. Die Noordwes-Universiteit volg streng maatreëls wat vereis dat oorsese besoekers en dosente of studente wat in ‘n privaat of amptelike hoedanigheid oorsee gereis het, eers vir 14 dae in kwarantyn moet bly, voordat hulle deur die Sentrum vir Beroepsveiligheid veilig verklaar word om in die gemeenskap te mag beweeg.
Drie dae later, op 21 Maart, het die atleet terugvoering gekry dat hy positief getoets is. Volgens die eienaar van die gastehuis was hy geskok, juis omdat hy nog geen simptome van die virus getoon het nie. Volgens Nela Mojanaga, hoofdirekteur van gesondheidsdienste van Dr. Kenneth Kaunda Distrik, was die atleet ‘n draer van die virus en het hy daarom geen simptome getoon nie.
Die atleet het na bewering met die Franse ambassade in verbinding getree, wat hom aanbeveel het om dadelik terug te vlieg Frankryk toe voordat die nasionale staat van inperking begin het.
Die gastehuisbestuurder en sy vrou, asook vier ander atlete wat by hulle tuisgegaan het, het hulle dadelik in selfkwarantyn geplaas. Volgens die gastehuisbestuurder het twee ander atlete, onderskeidelik uit Algerië en Frankryk, ook die virustoets ondergaan, maar negtief getoets. Hy is nie seker of die ander twee atlete van die Oekraïne getoets is nie. Almal het met hulle onderskeie ambassades in verbinding getree, wat hulle opdrag gegee het om na hulle lande terug te keer.
Die gastehuiseienaar en sy vrou het intussen nie weer uit hulle gastehuis beweeg nie.
Vroeër het City Press berig dat die Noordwes Provinsie voortaan nie selfkwarantyn gaan toelaat nie, weens ‘n geval waar ‘n pasiënt die wet oortree het. Die pasiënt het uit Rustenburg na Mahikeng gereis en so mense waarmee hy in aanraking was, aan die virus blootgestel.
Lekgethwane sê egter mense in die Noordwes Provinsie word wel toegelaat om selfkwarantyn toe te pas. Uitsonderings word egter gemaak in soortgelyke gevalle waar mense weier om die wet te gehoorsaam. “Die Gesondheidsdepartement word dan gedwing om sulke mense in staatsfasiliteite in kwarantyn te plaas,” het hy gesê.



