Die rampverligtingskomitee het tot dusver reeds 7,5 ton meel aan hulpbehoewende mense uitgedeel. Wyksraadslede en kerke versprei die kos op ‘n veilige manier in hulle omgewing.
Die nasionale staat van inperking, wat nou met ‘n verdere twee weke verleng is, tref mense wat daagliks ‘n inkomste verdien die hardste. Hierdie mense is dagloners, straatverkopers, karwagte, en mense wat los werkies hier en daar kry om aan die lewe te bly. In sommige huishoudings is kinders die hoof. Hulle ly honger want hulle het nie geld om kos te koop nie.
Die rampverligtingskomitee bestaan uit mense uit verskeie oorde- Potchefstroom/Tlokwe Sakekamer, die department van sosiale ontwikkeling, kerke, die gemeenskapspolisiëringsforum, polisie en die J.B Marks Stadsraad.
Hans-Jurie Moolman, ‘n plaaslike prokureur en lid van die komitee, wil dit duidelik maak dat die komitee nie polities gedrewe is nie.
Hulle vorm ‘n subkomitee van die J.B Marks se munisipale rampbestuurskomitee en is besig om in samewerking met sosiale ontwikkeling en die stadsraad, ‘n lys van hulpbehoewende mense saam te stel en meel uit te deel.
Die meel wat die komitee van ‘n plaaslike maatskappy ontvang is reeds gaar en slegs water hoef bygevoeg te word voordat dit geëet word.
“Huishoudings spaar dus ook energie om die pap gaar te maak,” sê Moolman.
“Ons kan nie verwag dat soldate in ‘n oorlog moet veg sonder kos in hulle maag nie,” sê Moolman, wat saam met die komitee by die publiek pleit om hulle inisiatief te ondersteun.
Die J.B Marks munisipaliteit is tans besig om ‘n bedrag vir hongerverligting te finaliseer. ‘n Bykomende R65 000 per dag is nog nodig om dié huishoudings te voed. Alle fondse wat geskenk word, word deur die Potchefstroomse Sakekamer bestuur.
Mense wat behoeftig is en meel wil ontvang, kan die munisipale rampbestuurskantore by (018) 299 5822 of hulle wyksraadslede kontak.
Donasies kan in die volgende rekening inbetaal word:
- Bank: Nedbank
- Rekeningnaam: Potch Tlokwe Sakekamer Projekte
- Rekeningnommer: 1201 6633 42
- Rekeningtipe: Tjek
- Takkode: 198 765
- Verwysing: “Dis relief” + voorletters en van
* Indien moontlik, stuur ‘n bewys van betaling en jou kontakbesonderhede na info@potch-tlokwe.co.za.
Belastingkortingsertifikaat
Daar is ‘n diensverskaffer geïdentifiseer, “Touching Africa Development Trust”, vir diegene wat graag ‘n seksie 18A belastingkortingsertifikaat vir hulle donasies wil ontvang. Die fondse moet direk in hulle rekening betaal word, waarna dit weer direk in die Sakekamer se rekening oorgeplaas sal word. Bankbesonderhede vir die “Touching Africa Development Trust” kan by info@potch-tlokwe.co.za of Jonathan Baron by 084 506 3706 bekom word.




