CommunityNewsNewsPhoto Galleries

Werknemers van stadsraad skuldig aan onwettige storting

Onwettige storting van huis- en tuinafval is besig om al hoe meer, veral in die industriële gebied van Potchefstroom, toe te neem.

Onwettige storting van huis- en tuinafval is besig om al hoe meer, veral in die industriële gebied van Potchefstroom, toe te neem. Die publiek stort afval in areas langs die pad of ry met hul voertuie dieper in ‘n oop stuk veld in om hulle afval daar te stort.

“Jy kan maar kyk waar daar ‘n tweespoorpaadjie in ‘n veld inlei, sal daar aan die einde vullis gestort wees,” sê ‘n verkeersbeampte van Potchefstroom wat bewus is van die onwettige stortingsprobleem in Potchefstroom.

Fonteinstraat is besig om erg onder onwettige storting deur te loop en wanneer ‘n mens in Jeppestraat ry, is daar verskeie areas wat so besoedel is. Ook in Louis le Grangestraat wat na die industriële area toe lei.

Storting langs die pad in Jeppestraat in die industriële gebied.

“Hierdie storting lei tot besoedeling en is ‘n gesondheidsrisiko vir huishoudings en besighede in die omgewing omdat dit peste en plae lok,” sê die verkeersbeampte wat verkies om nie sy naam bekend te maak nie. Selfs die stadsraad se eie werknemers maak hulle skuldig aan onwettige storting. ‘n Foto wat die verkeersbeampte geneem het van een van die stadsraad se voertuie is ‘n bewys dat mense eenvoudig te lui is om al die pad na die amptelike stortingsterrein te ry. In meeste gevalle is hulle bestuurders nie eens bewus van die werknemers wat onwettig stort nie.

Die hoof van die verkeersafdeling in Potchefstroom, Malcolm Grimbeek, verwelkom die publiek om betrokke te raak en onwettige storting te rapporteer. “Wanneer jy op iemand afkom wat onwettig vullis stort, moet jy foto’s neem en ‘n verklaring skryf met die dag, datum en die nommerplaat van die voertuig, asook ‘n beskrywing van die motor wat betrokke was by die onwettige storting.

“Die verklaring moet daarna beëdig word. Persone wat vir onwettige storting gevang word, moet in die hof verskyn en word dan ‘n boete van R1 000 opgelê. Die persoon wat die verklaring skryf, moet sy naam en ID nommer ook in die verklaring verskaf en moet bereid wees om in die hof te verskyn.

Die woordvoerder van J.B Marks, William Maphosa, sê die munisipaliteit neem kennis en is terleurgesteld in hulle werknemers wat onwettig vullis stort. Hy sê dat die stadsraad die optrede ook as ‘n oortreding van die huidige inperkingswetgewing beskou en dit ten sterkste veroordeel. “Ons sal die saak verder ondersoek en teenoor hulle optree,” sê hy.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button