
Uitgewers word genooi om Afrikaanse woordkunspublikasies, wat in die tydperk 2016 tot 2019 gepubliseer is, vir die 2020 Helgaard Steyn-toekenning voor te lê. Inskrywings sluit Saterdag 30 Mei.
Die Helgaard Steyn-toekenning is finansieël een van die grootste, maar ook mees gesogte pryse wat jaarliks vir die bevordering van die kunste beskikbaar gestel word. Dit word om die beurt vir skilderkuns, musiek, beeldhoukuns en skryfkuns toegeken.
Die Helgaard Steyn-Trustakte bepaal dat persone van enige geslag of ras vir die toekenning in aanmerking geneem word, mits sodanige persoon in Suid-Afrika gebore is of ten minste tweederdes van sy/haar lewe in Suid-Afrika deurgebring het.
Vanjaar se beoordelaars is prof. B.J. Odendaal, van die Noordwes Universiteit, en prof. H.J. Pieterse, van die Universiteit van die Vrystaat.
Publikasies moet deur die onderskeie uitgewers benoem word om vir die beoordeling oorweeg te word. Plaas inskrywings alfabeties volgens skrywersvanne op ’n lys en stuur voor 30 Mei per e-pos aan die koördineerder, Vincent Eastes, by vincent.eastes@nwu.ac.za. Vir navrae skakel Vincent by 018 299 2600.




