Huldeblyk aan oud-onderwyseres van Volkies wat sterf aan kanker
Huldeblyke het op Hoër Volkskool se Facebookblad ingestroom met die aankondiging dat ‘n geliefde oud-onderwyseres, Ina van Wyk (78), op Woensdag, 3 Junie oorlede is.
Huldeblyke het op Hoër Volkskool se Facebookblad ingestroom met die aankondiging dat ‘n geliefde oud-onderwyseres, Ina van Wyk (78), op Woensdag, 3 Junie oorlede is.
Dié geliefde vrou het vir 15 jaar (1992-2007) diep in die harte van haar kollegas en leerlinge gekruip.
Die Herald haal graag twee van die 76 boodskappe aan wat op Facebook aan haar opgedra is. Een van haar leerlinge, Jenny Cloete, skryf: “Hoe seer is my hart nou… Jy sal altyd geliefd bly Juffrou Ina van Wyk!! Dankie weer eens, vir die diep spore wat jy in my menswees getrap het! Jy was my gunsteling!! Rus sag.”
Linda Badenhorst skryf ook: “Sy het ‘n baie groot invloed in my lewe gehad. ‘n Merkwaardige vrou wat almal om haar geïnspireer het om hoër hoogtes te bereik.”
Ina van Wyk, oftewel Magdalena Catharina (neé Venter), is op 31 Desember 1941 op Vosburg in die Noord-Kaap gebore. Sy was vir 55 jaar met Lourens van Wyk getroud en twee seuns is uit die huwelik gebore. Hulle het 31 jaar in Potchefstroom gewoon. Lourens is in 2018 oorlede. Volgens Ina sa skoondogter, Retha van Wyk, was sy ‘n gebore onderwyseres en kenner op haar vakgebied. Sy het baanbrekerswerk gedoen met die vestiging van die hotelskool wat by Volkies begin is en was bekend vir die organisering van onthale, sportbyeenkomste en Volkies se jaarlikse Wildsfees.
Sy was ‘n veelsydige vrou. Behalwe vir haar onthaalvernuf en haar heerlike kaaskoeke, het Ina ook vir baie jare atletiek afgerig en was sy ook in afrigterskringe bekend. Sy het ‘n besondere deernis vir haar leerlinge gehad en was ‘n rolmodel vir almal.
“Sy het baie deursettingsvermoë gehad en het die lewe met passie en ywer benader en haar beste gegee in alles wat sy gedoen het.
Sy was vrygewig, hardwerkend, ambisieus en het ‘n goeie sin vir humor gehad. Haar liefde vir mense het meegebring dat sy baie betrokke was by die gemeenskap, gedeel het in ander se lief en leed en altyd bereid was om hulp te verleen waar dit nodig was,” vertel Retha van haar skoonma.
Ina laat twee seuns, Lourens en Johan en haar skoondogter, Retha, asook ‘n kleindogter, Rehané en twee kleinseuns, Dian en Lourens van Wyk agter.
Haar gedenkdiens het Vrydag, 12 Junie in die Oos-Dopper-gemeente in Baillie Park plaasgevind.




