PAWS se Kaapse kat terug by haar ‘ouers’
"Haar pelsie blink en haar ogies is op en wakker. Michelle van PAWS het regtig baie mooi na haar gekyk. Ons is so te sê nog elke dag in kontak met mekaar."
PAWS se Kaapse gemmerkat Charlie, is uiteindelik terug by haar huis in die Kaap.
Potchefstroom Herald het in Mei vanjaar berig dat die vierjarige Charlie per ongeluk in Februarie op ‘n meubelvervoerwa gespring het en toe al die pad vanaf die Kaap in Potchefstroom beland het. Inwoners wat haar gevind het, het haar na PAWS geneem, waar Michelle Swart haar versorg het en met haar eienaar, Cindy Zandberg, kontak gemaak het.

Weens die Covid-19 inperkingsregulasies kon Charlie eers verlede Woensdag, 3 Junie in die Kaap aankom en dié kateienaar is nou beslis in die sewende hemel.
“Charlie is terug by die huis en ons is baie gelukkig daaroor. Dit was ‘n lang vier maande wat sy weg was en het gevoel soos ‘n ewigheid. Sy was aanvanklik baie skrikkerig en wou net wegkruip, veral as dit by die honde gekom het. Maar sy is besig om weer haar plekkie in die huis te vind,” noem Cindy.
Sy is ook baie dankbaar vir alles wat PAWS gedoen het om haar katkind die afgelope twee maande wat sy by hulle was, mooi te versorg.
“Haar pelsie blink en haar ogies is op en wakker. Michelle van PAWS het regtig baie mooi na haar gekyk. Ons is so te sê nog elke dag in kontak met mekaar. Ek stuur gereeld foto’s van Charlie en Michelle stuur vir my weer foto’s van nuwe rescues wat PAWS ingeneem het.”
“Gisteraand het ek ‘n kort videogreep van Michelle ontvang waar sy met ‘n nuwe rescue katjie praat. Haar stem het dadelik reaksie van Charlie ontlok waar sy vir die foon gesit en kyk het. Dit was baie oulik om te sien,” vertel Cindy verder.
Dit is beslis so dat Charlie se avonture nog vir lank vertel gaan word en ‘n storie sal wees wat Charlie se lewe so spesiaal maak – sy is ‘n simbool van ‘n nuwe vriendskap wat kilometers ver strek.
“Ek is baie dankbaar vir alles wat PAWS vir ons gedoen het in die tyd wat Charlie by hulle was. Ons kan hulle nie genoeg bedank nie,” sê Cindy.
https://www.citizen.co.za/potchefstroom-herald/73089/treklorrie-episode-bring-kaapse-kat-tot-by-paws/




