Covid-19-krisis die rede waarom Modise nie in die hof verkyn het
Thandi Modise, speaker van die parlement, het Woensdag (1 Julie) in die Potchefstroomse streekshof verskyn en verduidelik waarom sy nie op 24 Maart vir die hofsaak, waarop sy vir dieremishandeling aangekla word, opgedaag het nie.
Thandi Modise, speaker van die parlement, het Woensdag (1 Julie) in die Potchefstroomse streekshof verskyn en verduidelik waarom sy nie op 24 Maart vir die hofsaak, waarop sy vir dieremishandeling aangekla word, opgedaag het nie. Nadat sy versuim het om op te daag, was ʼn lasbrief vir haar inhegtenisneming uitgereik en tot haar volgende verskyning oorgehou.
Volgens ʼn mediaverklaring van AfriForum het haar regsverteenwoordiger, Dali Mpofu SC, aangevoer dat Modise genoodsaak was om ʼn dringende vergadering by te woon wat pres. Cyril Ramaphosa met haar op 23 Maart belê het. Dié vergadering was dieselfde dag toe die eerste inperkingsperiode aangekondig was en sy was genoodsaak om die koronavirus-krisis te help bestuur.
AfriForum het egter aangevoer dat sy doelbewus die hofsaak probeer uitstel, omdat haar prokureurs die privaatvervolgingseenheid reeds op 18 Maart in kennis gestel het dat sy weens die vergadering met die president (23 Maart) nie op 24 Maart in die hof gaan wees nie. Modise het ook nie die president in kennis gestel dat sy 24 Maart in die hof moet verskyn nie of ʼn versoek gerig om die vergadering te probeer skuif nie.
Dit is nie die eerste keer dat Modise versuim om weens parlementêre verpligtinge in die hof te verskyn nie. In 2019 het sy op 21 Junie ook nie opgedaag nie en die hofdatum is toe na 22 Julie 2019 uitgestel.
Woensdag het die hof egter beslis dat sy as gevolg van die COVID-19-pandemie genoegsame rede gehad het om nie te verskyn nie en die volgende verhoordatum is na 1-3 Desember uitgestel.
Andrew Leask, hoofondersoeker by AfriForum se privaatvervolgingseenheid, het gesê AfriForum verwelkom die feit dat daar nou uiteindelik ’n datum vir vervolging vasgestel is: … “maar ons sal nie toelaat dat die beskuldigde hierdie verhoor in ’n rasseherrie laat ontaard nie – die regstelsel is veronderstel om kleurblind te wees. Niemand is verhewe bo die reg nie, nie eens die speaker van die parlement nie. AfriForum se privaatvervolgingseenheid sien daarna uit om uiteindelik met die verhoor te begin sodat Modise verantwoording kan doen vir hierdie wrede geval van dieremishandeling.”
Modise word van dieremishandeling aangekla nadat AfriForum, namens die Dierebeskermingsvereniging (NDBV) in 2018, besluit het om haar privaat te vervolg. Dit nadat die Nasionale Vervolgingsgesag destyds besluit het om Modise nie te vervolg nie.
Die aanklagte teen Modise spruit uit gebeure in 2014 waar meer as 162 diere op haar plaas naby Potchefstroom uitgesit moes word omdat hulle besig was om van honger te vrek. Die plaas was besaai met karkasse van meer as 50 varke en ander dooie diere soos ganse, eende, skape en bokke wat sonder kos of water gelaat was.




