SportSport

Voormalige NWU losskakel wil nuwe kans in Europa benut

"Dit is my doelwit om ‘n beter mens op en vanaf die veld te word, om ‘n positiewe invloed op die groep te hê en die belangrikste, om Jesus se naam bekend te maak waar Hy my en my vrou, Danél, ook al neem."

Vir talle Suid-Afrikaanse rugbyspelers is dit ‘n massiewe geleentheid om rugby in Europa te gaan speel. Die nuwe kultuur en land wat verken word, nuwe ervaringe op en van die veld, sowel as goeie betaling, is maar van die trekpleisters om in die natter Noordelike halfrond hul rugbytokse aan te trek.
Schalk Hugo, die bekende NWU Varsitybeker losskakel wat vanaf 2016 tot 2019 vir die universiteit en die Luiperds op losskakel uitgedraf het, gaan binnekort ‘n goeie aptytwekker van Italiaanse rugby kry.

Hugo maak gereed om pale toe te skop in Frankryk vir sy klubspan, Vannes. Foto: Bruno Perrel/Capture Evenements

Hugo gaan vanaf 1 Augustus by die Kawasaki Robot Rugby Calvisano in Italië aansluit om in die Italiaanse Top 12-liga te speel.
Dit maak nuwe deure oop vir die talentvolle nommer 10, nadat hy vir ongeveer ‘n jaar by Vannes in Frankryk in die kompeterende D2-liga betrokke was.
Dit is hier waar Hugo die eerste keer rugby in die Noordelike halfrond geproe het – ‘n smaak wat hy eers aan gewoond moes raak na jare se braaivleisgegeurde rugby in Suid-Afrika.

“Ek het dit baie geniet hier by Vannes. Die belangrikste ding wat ek geleer het, of altans net weer besef het, is hoe belangrik kommunikasie is.
“Dit was vir my maar moeilik en beslis die grootste uitdaging om te kommunikeer met party ander spelers wat glad nie Engels verstaan nie. Ek het net ‘n kontrak vir ‘n jaar by Vannes geteken, so ek moes maar op die uitkyk wees vir ander geleenthede en Calvisano het belang gestel,” vertel Hugo vanuit Vannes in Frankryk.

Hugo is ‘n man van God en weet dat alles vir ‘n rede uitwerk. By Vannes kon hy net vier wedstryde speel, aangesien hy sy enkel aan die begin van die seisoen seergemaak het. Nou is daar ‘n nuwe geleentheid saam met die huidige Italiaanse Top 12 kampioene en hy voel dat hy met hierdie nuwe skuif sy talente verder by sy nuwe span kan gebruik.

“Ek het maar min geleentheid gekry om myself te bewys by Vannes, so dit is my doelwit om gebruik te maak van elke geleentheid wat ek kry by Calvisano. Om ‘n beter mens op en vanaf die veld te word, om ‘n positiewe invloed op die groep te hê en die belangrikste, om Jesus se naam bekend te maak waar Hy my en my vrou, Danél, ook al neem,” vertel Hugo, wat die afgelope paar jaar ‘n toegewyde Christen is en ook gedoop is.

Schalk Hugo vier sy drie vir Vannes. Foto: Bruno Perrel/Capture Evenements

Hy mis wel ‘n paar aspekte van Suid-Afrika, soos die manier van rugby speel, asook die taal en kultuur.
“Hier in Frankryk het ons baie direkte rugby gespeel, asook baie gefokus op skop as wedstrydplan. By die NWU-Pukke en Luiperds het ons in hardlooprugby geglo. Dit was maar baie natterige weer waarin ons (hier in Frankryk) gespeel het, so dit is beslis die rede vir die direkte rugbystyl en baie skop.

“Ek mis Afrikaans, die Suid-Afrikaanse rugby ‘lingo’, hardloop rugby, asook die vriende saam met wie ek die afgelope paar jare gespeel het,” noem Hugo verder.

Een van die aspekte wat vir Hugo bygeval het in sy tyd in Frankryk is hoe passievol die ondersteuners is om rugby by hul tuisstadion (Stade de la Rabine) te speel. “Die ondersteuners is oral in Frankryk baie passievol. Ons tuisstadion was elke naweek uitverkoop en hulle sing byna onophoudelik saam van die begin tot die einde,” noem hy.
Hugo het ook saam met die Suid-Afrikaner, Branden Holder, Fiji se Albert Vulivuli en Freddie Hickes sowel as die voormalige NZ Sewes speler, Ambrose Curtis, gespeel.
Hy het ook in sy tyd kragte met die voormalige Griekwa, AJ Coetzen en Blou Bul, Shaun Adendorf gemeet.

Schalk Hugo sluit homself by die Italiaanse klub, Calvisano vir die volgende seisoen aan.

Alles lewensverykkende ervarings wat ‘n soete herinnering is en ‘n smakie is van wat op sy rugbybord lê in die toekoms.

Vir Hugo is sy tydperk in Europa een wat hy ten volle wil geniet en oor niks spyt wil wees nie – alles gaan oor die Here se wil in sy lewe.

“Ek wil myself met niemand anders vergelyk nie, maar wil net die beste mens en rugbyspeler wees wat ek kan wees. Ek wil elke dag groei en beter raak in alle aspekte van my lewe.
“Ek wil nie eendag terugkyk en sê, ‘wat as ek maar net harder gewerk het, of wat as ek myself net meer geback het’. As dit die Here se wil is dan sal ek nog lank wil rugby speel.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button