CommunityNewsNewsPhoto Galleries

Sentrum verval in krotbuurt

Klagtes van die publiek oor die hope vullis wat aan die agterkant van die  Oriental Plaza (Indiërsentrum) gestort word en inwoners wat hulle intrek in die winkelruimtes van die sentrum geneem het, het die Herald onlangs genoop om ondersoek in te stel.

Die publiek het egter verlede jaar al bewus geword van die winkels wat as wooneenhede uitverhuur word, toe die Herald verslag gelewer het oor ‘n hofsaak waar ‘n vyfjarige kleuter, Lovemore Ncube, juis in een van dié wooneenhede vermoor is.

Moord op kleuter

Die vermeende moordenaar, Daniel Minta, ‘n boorling van Ghana, het hier in een van die winkels gewoon wat ‘n stoorplek vir ‘n groentehandelaar was. Daniel het Lovemore, wat saam met sy gesin in een van die winkels gewoon het, na bewering op 3 Oktober 2018 hier ontvoer, verkrag en versmoor nadat hy stopsels van ‘n kussing in sy keel afgedruk het.

Sy lykie is deur Daniel se voormalige vriend, Themba Skosana, in die basis van Daniel se bed ontdek toe hy sy foon onder die matras gesoek het.

Dié moord en onlangse klagtes, plaas opnuut die soeklig op die Oriental Plaza en die owerheid wat veronderstel is om die wet af te dwing. Die Herald het ‘n lektor in stads- en streeksbeplanning van die NWU, Jako Viviers, genader om te verduidelik wat die sonering van besigheidsregte na woonregte behels.

Sonering

Volgens Jako moet die sonering van alle eiendomme in ‘n munisipaliteit aangetoon word in ‘n Grondgebruikskema. Hy noem ook dat munisipaliteite se benadering in die bestuur van eiendomme, kan verskil. “Elke sonering het verskeie grondgebruike wat daarop toegelaat  word. In die geval van die Oriental Plaza is die sonering waarskynlik besigheid met die toegelate gebruik,’n winkelsentrum. Geen eiendom mag egter strydig wees met die oorspronklike sonering nie,” verduidelik Jako. Hy noem ook dat die meeste munisipaliteite oor meganismes om boetes uit te reik beskik wanneer dit wel die geval is.

Hersonering

Jako noem wel dat woonstelle en besighede op dieselfde eiendom kan voorkom, maar dat twee beginsels egter altyd geldig is. Eerstens, indien ’n  bestaande gebou omgeskep word, ongeag die sonering daarvan, moet die bouplan by die munisipaliteit se bouafdeling daarvoor ingedien word.  Die bouinspekteurs sal die nasionale bou- en gesondheidsregulasies toepas alvorens ’n  bouplan goedgekeur word om te voorkom dat mense in minderwaardige omstandighede bly.

Tweedens, indien die beoogde ontwikkeling ‘n verandering in sonering noodsaak, moet ’n hersonering van die eiendom plaasvind. “In so ‘n geval moet daar ‘n formele proses gevolg word waar, onder andere, ‘n advertensie op die terrein geplaas word. Die munisipaliteit sal normaalweg op ‘n diensteverslag, nuwe bouplanne en ‘n reeks ander vereistes aandring.”

Winkeleienaars wil nie praat

Die Herald het probeer om ‘n onderhoud te voer met Nazir Ali, die eienaar van Freda’s by die Oriental Plaza. Toe daar aan hom gevra is waarom winkeleienaars die winkels in woonruimtes omskep, wou hy nie daaroor praat nie en het hy die Herald na Farhad Moosajee, ‘n lid van Oriental Plaza se beheerliggaam, verwys.

Nie almal ten gunste van woonstelle

Farhad was vriendelik en het geduldig verduidelik wat die stand van sake is. Volgens hom is nie al die winkeleienaars van die Oriental Plaza ten gunste daarvan dat die winkels uitverhuur word nie. Van die sewe lede in die beheerliggaam is daar twee persone wat hulle winkels as wooneenhede uitverhuur, vertel hy.

Volgens hom het winkeleienaars al ongeveer agt jaar gelede begin om een of twee mense in winkels te laat woon, maar nadat sommiges gekla het, is dit stopgesit. ‘n Ruk daarna het winkeleienaars hulle egter nie meer aan die besluit gesteur nie en het hulle begin om die winkels in kamers af te skort sodat meer mense daarin kan woon.

Hy vermoed dat die eienaars meer geld uit die huurinkomste van die hostelbewoners kry, as die gewone huur van ‘n winkel of stoorkamer.

Farhad en sy vrou besit ook ‘n winkel by Oriental Plaza, maar hulle gebruik dit as stoorplek.

Elke Donderdagoggend het hulle ‘n sopkombuis by die winkelsentrum, waar hulle kos aan armes in die omgewing uitdeel.

Omstandighede ongewens

“Ons is nie ten gunste van die huurders daar nie omdat die omstandighede waarin hulle woon, ongewens is. Daar is nie vensters in die winkels wat lug en lig inlaat nie. Hulle skep ‘n brandgevaar en sommige van die huurders trek onwettig elektrisiteit uit ander winkels uit.

Winkels aan die agterkant van die sentrum is in wooneenhede omskep.

Die Herald het met twee van die huurders gesels en hulle woonruimte besoek. Volgens hulle is daar 13 winkels wat as woonstelle ingerig is.

Die winkel binne is pikdonker en is in twee kombuise en twee slaapkamers verdeel waarin agt mense woon. Daar is geen badkamers of toilette binne nie. Die toilette wat ver van die woongeriewe geleë is, word gereeld geplunder.

Farhad sê die beheerliggaam weier nou om die toilette reg te maak omdat alles gesteel word die oomblik wat dit reggemaak word.

Hy skat dat daar net een of twee toilette is wat nog werk. “Ek weet nie waar gaan die mense toilet toe nie,” sê hy.

Munisipaliteit doen niks

Farhad vertel ook dat die mense wat teen die verhurings gekant is, die munisipaliteit verskeie kere versoek het om ondersoek in te stel.

“Teen die einde van verlede jaar was werknemers van JB Marks se behuising, brandweer en  gesondheid hier om ondersoek in te stel, maar niks word gedoen nie,” sê hy.

Hofbevel teen inwoners

Die Herald het ook navrae aan die kommunikasiewoordvoerder van JB Marks, William Maphosa, gestuur en wou weet of die kompleks hersoneer is en of die munisipaliteit bewus is van die mense wat op ‘n besigheidsperseel woon.

Na vier weke het die munisipaliteit wel laat weet dat hulle regspraktisyns aangestel het om ‘n moontlike hofbevel teen die genoemde oortreders op die terrein te bekom.

“Konsultasies en inligtingsessies van die regspan, wat ook besoeke en inspeksies aan die terrein doen, is tans aan die gang. Op die toepaslike tyd, wat binnekort kan wees, kan die opsie van ‘n hofbevel geloods word,” het Maphosa gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button