CommunityNewsNewsPhoto Galleries

Hospitaalpark ‘n seer oog en gevaar vir publiek

Die groot park aan die oorkant van Potchefstroom Hospitaal, Petersen Park, of Hospitaalpark soos die meeste dit ken, is tans in ‘n erg verwaarloosde toestand. Herwinners is besig om die park te besoedel en maak vuur tussen die afvalplastiek wat die hele gebied vol lê.

Die groot park aan die oorkant van Potchefstroom Hospitaal, Petersen Park, of Hospitaalpark soos die meeste dit ken, is tans in ‘n erg verwaarloosde toestand. Herwinners is besig om die park te besoedel en maak vuur tussen die afvalplastiek wat die hele gebied vol lê.

Volgens Johan Zerwick, ‘n raadslid van die JB Marks Munisipaliteit, is die park in November verlede jaar laas skoongemaak. Die wyk het toe R30 000 opgedok om die plek op te ruim. Zerwick sê dat herwinners die grootste probleem is. “Hulle word telkens daar verwilder om maar net weer terug te kom.

Wanneer die inwoners hulle swart vullissakke uitsit om deur die munisipaliteit verwyder te word, kollekteer die herwinners die sakke en doen hulle herwinning in die parkie,” vertel Johan. Die herwinners kollekteer slegs die bruikbare herwinbare materiaal en stort die res in die parkie.

Die groot sementpype wat reeds vir drie jaar aan die een kant van die park opgestapel lê, maak dit duidelik dat die munisipaliteit nie regtig beheer oor die omgewing het nie.

Sementpype lê al vir drie jaar op die sypaadjie. Foto: Venessa van der Westhuizen

Die Herald was onder die indruk dat die sementpype aan departement openbare werke (DOW) behoort, maar ‘n woordvoerder van DOW, Matshube Mfoloe, sê die pype is nie hulle eiendom nie.

Volgens Zerwick was daar drie jaar gelede opgrawings voor die hospitaal om ‘n verstopte watervoor te herstel, maar die Herald moet nou vasstel of dit deur die hospitaal of deur die munisipaliteit gedoen is.

Dié pype is tans stoor- en slaapplek vir haweloses by die park en dra by tot die probleem van ongure karakters wat die park besoedel.

Benewens die besoedeling, word die elektriese bedrading van die park gesteel en die jukskei huisie geplunder – vensterrame, krane en pype word gesteel.

Die jukskei huisie op die perseel is geplunder. Selfs die palisade heining word gesteel. Foto: Venessa van der Westhuizen

“Die park bly ‘n groot kopseer vir die wykskomitee en vir aangrensende inwoners. Dit lok net leeglêers en skelms. Daar is al byna by elke huis om die parkie ingebreek en meer as een keer by sommige huise,” sê Zerwick. Die parkie laat die waarde van die eiendom in die omgewing daal, want een van die inwoners wie se huis in die mark was, kon nie ‘n koper kry nie. “Potensiële kopers het gesê dat hulle nie langs so ‘n “seer oog” wil bly nie.

‘n Potchefstroomse inwoner, Charles Stuart, het egter die potensiaal van die parkie raakgesien en ‘n formele voorlegging by die munisipaliteit ingedien om op sy eie onkoste ‘n gimnasium daar te bou en die park in ‘n buitemuurse oefenpark vir die gemeenskap te omskep.

Hy het George Chaka, lid van die burgemeesterskomitee vir plaaslike ekonomiese ontwikkeling, Thomas Muswedi, waarnemende hoof van parke en rekreasie, asook Marius Lamprecht van die bouinspekteur-afdeling persoonlik gaan spreek en almal was baie positief om ‘n werkbare oplossing vir die park te kry.

Helaas het niemand sedert Oktober verlede jaar nog na hom toe teruggekom nie.

William Maphosa, die mediawoordvoerder van JB Marks, erken dat die park ‘n buitengewone uitdaging vir die munisipaliteit is en dat dit soos ander parke, die uithangplek van prostitute, dwelmgebruikers en herwinners is.

“Die munisipaliteit stel voor dat die sekuriteitsafdeling van die munisipaliteit oorweeg word om op ‘n gereelde basis dié en ander parke te patrolleer om so die onwelkome elemente te verjaag.

“Ons wil graag gemeenskapstrukture soos die buurtwag hierby betrek om die monitering van die fasiliteite te ondersteun,” sê Maphosa.

Oor die voorstel van Charles Stuart sê hy: “Die munisipaliteit is beslis steeds geïnteresseerd in mnr. Stuart se aanvanklike planne en sal hom steeds hierby betrek.”

Herwinners besoedel die park met afvalmateriaal wat nie herwin kan word nie. Foto: Venessa van der Westhuizen

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button