CommunityNewsNewsPhoto Galleries

Batseba Holdings maan DA en Sonakile – eis ‘n verskoning

‘n Mediaverklaring van Freddy Sonakile, DA woordvoerder van die Noordwes, waarin hy die JB Marks Munisipaliteit se spandabelrige aankope by Batseba Holdings kritiseer, het die eienaar van Batseba Holdings warm onder die kraag.

‘n Mediaverklaring van Freddy Sonakile, DA woordvoerder van die Noordwes en komiteelid van die  Provinsiale Staande Komitee oor Openbare Rekeninge (Skoor), waarin hy die JB Marks Munisipaliteit se spandabelrige aankope by Batseba Holdings kritiseer, het die eienaar van Batseba Holdings warm onder die kraag.

Sonakile het in die mediaverklaring daarop gewys dat Batseba Holdings die saniteerders, maskers, handskoene en gesigskerms aan die JB Marks Munisipaliteit met Covid-19 aankope verskaf het. Hy het verwys na JB Marks se verslag waarin die pryse van die beskermende klere uiteengesit word en uitgewys dat die munisipaliteit R742,500 vir 990 een liter bottel saniteerders betaal het, wat op R750 per liter bereken word. Sonakile het ook aangedui dat Batseba Holdings nie op die nasionale tesourie se databasis as verskaffer gelys word nie, omdat tesourie spesiale pryse met verskaffers op hul databasis beding. Hy het in die verklaring gesê die JB Marks Munisipaliteit het afgewyk van normale aankoopprosedures en het onder tesourie se noodverkrygings Covid-19 regulasies die aankope gedoen.

In ‘n brief, gedateer 28 Julie, wat Batseba Holdings deur hulle prokureurs, Mabuza Attorneys, laat opstel het, beskuldig hulle Sonakile en die DA daarvan dat hulle vals en lasterlike inligting oor Batseba Holdings in die mediaverklaring versprei het.

Mabuza Attorneys voer aan dat die DA en Sonakile in die mediaverklaring impliseer dat Batseba Holdings gierig is, dat hulle korrup en gewetenloos is en dat hulle hulself ten koste van die man op straat verryk. Mabuza Attorneys voer ook aan dat die mediaverklaring Batseba Holdings nie alleen finansiële skade berokken nie, maar dat hulle reputasie ook daaronder sal lei.

Batseba Holdings dring daarop aan dat die DA moet sorg dat:

  • die mediaverklaring en mense se reaksie daarop van die DA se webwerf en sosiale media en enige ander publikasies wat daarna verwys, verwyder moet word.
  • die DA en Sonakile die beledigende aantygings moet terugtrek en ‘n brief ter verskoning moet aanbied wat vooraf aan Mabuza Attorneys beskikbaar gestel moet word en op die DA se webwerf en sosiale media gepos moet word.

Mabuza Attorneys het ook gesê dat indien Batseba Holdings se eise geweier word, hulle verdere regstappe sal neem.

Die DA het op hulle beurt weer ‘n prokureursbrief deur Minde Schapiro & Smith opgestel waarin hulle onder meer bevestig het dat die mediaverklaring van Sonakile en die DA wettig was en dat Batseba Holdings miskien moet rekening hou met die voorlegging van die JB Marks Munispaliteit aan Skoor.

Die DA en Sonakile ontken dat die verklaring lasterlik was en is van mening dat die mediaverklaring die waarheid is en in openbare belang was. Die verklaring lewer ook billike kommentaar op die feite wat waar is.

Minde Schapiro & Smith het ook bevestig dat die DA en Sonakile nie aan die eise van Batseba Holdings sal voldoen nie en skadevergoedingseise sal teenstaan.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button