
Kopers en verkopers van eiendomme asook prokureurs wat die uitklaringsertifikate van die stadsraad nodig het om die eiendom in nuwe eienaars se name te registreer, is moedeloos met die lang gesloer van die munisipaliteit.
Stephan du Plessis het aan die begin van Augustus ‘n brief aan die Herald geskryf waarin hy kla dat sy prokureurs sedert Januarie vanjaar vir die uitklaringsertifikaat van die munisipaliteit wag om die oordrag van die eiendom op die koper se naam te finaliseer en die boedel af te handel.
Hy skryf: “Sewe maande en steeds geen sertifikaat nie! Verskeie verskonings word deur die munisipaliteit aangebied, wat wissel van Covid-19 tot slegs een personeellid in die kantoor. Die nuutste verskoning is: ‘The mainframe is broken’!”
‘n Prokureur van Potchefstroom wat die eiendomstransaksies hanteer, is raadop met die gesloer. Sy skryf op 28 Julie: “Sedert 1 Julie vanjaar is nog geen nuwe uitklaringsertifikate vir die registrasie van eiendomme aan prokureurs uitgereik nie. Die registrasie van eiendomme in die JB Marks munisipaliteit kan nie afgehandel word nie.”
Volgens haar sit die munisipaliteit letterlik met honderde duisende rand van kliënte se geld in hulle rekening en die werk waarvoor hulle betaal word, word nie gedoen nie. Die verskoning wat vir haar aangebied is, is dat die “sisteem” nog nie oop is na die jaareinde van Junie 2020 nie en dat kwitansies daarom nog nie uitgereik kan word nie. “Hierdie laksheid van die munisipaliteit kos die kliënte en prokureurs derduisende rand en ons kry geen antwoorde nie,” sê sy.
*Die Herald het by JB Marks munisipaliteit navraag gedoen. William Maphosa, woordvoerder van die munisipaliteit, het erken dat daar veral aan die begin van die jaar ‘n agterstand met die uitreik van uitklaringsertifikate was. Hy sê die oorsaak kon hoofsaaklik toegeskryf word aan die Covid-19 inperkingstyd en die hoë aantal vakante poste in die afdeling, maar dat die probleem nou opgelos is. Volgens hom is die agterstand met die uitklaringsertifikate nie langer ‘n probleem nie.
“Vir die afgelope twee weke verloop die uitreik van sertifikate vlot en enige iemand wat probleme ervaar, word uitgenooi om die kantore te besoek sodat hulle sake opgevolg en afgehandel kan word.”




