Ses verdagtes vas na aanval op boer
Ses verdagtes is vanoggend in die vroeë oggendure (27 Augustus) gearresteer vir die aanval op André Marais (54), ʼn boer op Muiskraal, wat Dinsdag, 25 Augustus beroof en geskiet is.

Ses verdagtes is vanoggend (27 Augustus) in die vroeë oggendure gearresteer na die aanval op André Marais (54), ʼn boer op Muiskraal, wat Dinsdag, 25 Augustus beroof en geskiet is.
Marais is 10 keer in sy bene en voet geskiet toe hy rondom 18:00 na die tuinwerker, Amos Mahlaba (68), se sinkhuis toe gestap het om ondersoek in te stel na sy honde onbedaarlik begin blaf het.
Die tuinwerker is vroeër deur drie verdagtes oorval, vasgebind en met ‘n pistool aangehou. Na hulle Marais geskiet het, het hulle sy geweer en mes geroof en in ‘n silwerkleurige Volkswagen Golf gevlug.
Kol. Adéle Myburgh, Noordwes polisiewoordvoerder, sê die Potchefstroom Dwelm Taakspan, Trio Taakspan, sekuriteitsmaatskappye en Carletonville speurders het saamgewerk nadat hulle inligting van die publiek bekom het. Dit het gelei tot arrestasies by Khutsong, Oos-Driefontein en Muiskraal.
Volgens kol. Myburgh is daar gedurende die operasie vier verdagtes na verskeie huise in Khutsong gevolg waar hulle vir poging tot moord, diefstal van ʼn vuurwapen en die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie in hegtenis geneem is.
Die polisie het tydens die arrestasies op drie vuurwapens en ʼn nagemaakte pistool (9 mm speelgoedpistool) beslag gelê. Die ander twee verdagtes is op Oos-Driefontein, naby Carletonville en Muiskraal gearresteer. Al ses verdagtes is tussen die ouderdomme van 30-40 jaar.
Die verdagte wat op Oos-Driefontein gearresteer is, is dieselfde 34-jarige man wat Dinsdagaand ná die skietery deur die boere langs die pad op Muiskraal aangekeer is. Hy het gelieg toe hy hulle vertel het hy was vroeër die dag by Carletonville Mall beroof en ontvoer en deur drie makkers in ʼn silwerkleurige kar in die omgewing van Muiskraal afgelaai.
Hy het later ʼn vals verklaring by die polisie afgelê en word ook vir meineed aangekla. Die silwerkleurige Volkswagen Golf waarmee die aanvallers gevlug het, is ook in sy besit gevind.
Die ses verdagtes sal more (28 Augustus) in die Carletonville Landdroshof op aanklagte van die besit vir ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie verskyn. Hulle sal daarna Maandag, 31 Augustus weer in Ventersdorp Landdroshof verskyn op aanklagte van poging tot moord.
Die polisie se provinsiale kommissaris, lt. genl. Sello Kwena, het almal wat betrokke was by die operasie vir hulle samewerking geprys. Hy het ook die sekuriteitsmaatskappye en boere bedank wat die polisie gehelp het. Hy het ook gesê dat landelike veiligheid ʼn prioriteit is vir die polisie en dat hulle nie ʼn steen onaangeraak sal laat om oortreders vas te trek nie.
https://www.citizen.co.za/potchefstroom-herald/77316/boer-tien-keer-geskiet-en-leef-na-plaasaanval/




