LifestyleNewsNews

Snowflake se nuwe baadjie met boheemse-barok koffiewinkel

'n Nuwe toevoegging tot die Snowflake-gebou is die nuwe koffiewinkel, Re-Charge, wat pas geopen het. Die interieur is boheems-barok en beloof om jou asem weg te slaan.

Na vyf maande wat die Snowflake-gebou weens die groot inperking gesluit was, word die eerste Snowflake-mark volgende naweek van 4-5 September weer aangebied.

Vir die meeste Potchefstromers wat die afgelope jare elke markdag een keer per maand getrou bygewoon het om hulle uitgesoekte produkte en fynproewer disse aan te koop of sommer net in die historiese ou meule te kuier, was die lang stilte ʼn groot frustrasie.

Gelukkig wag daar vir almal ʼn groot verrassing wanneer die gebou weer sy groot staaldeure open, want die eienaars van dié pragtige ou gebou het beslis nie stilgesit nie. Hulle het ʼn grootskaalse restourasieprojek geloods en het self oorpakke aangetrek en die gereedskap uitgepak om ʼn nuwe funky koffiewinkel, Re-Charge en pizza-eetplek vir die publiek in te rig.

Martie Bothma, die mark-koördineerder, vertel dat haar seun, Rupert Bothma, met die idee van die koffiewinkel en pizza-eetplek vorendag gekom het. “Dit was altyd sy droom om hierdie gedeelte van die gebou in ʼn koffiewinkel en eetplek te omskep. Hy en ʼn vriend, Johan Eybers, het twee weke voor die inperking aangekondig is, die koffiewinkel geopen. Dit was omtrent ʼn terugslag. Maar ons het ons nie laat onderkry nie en besluit om die inperktyd produktief te gebruik en aan die werk gespring om die kuierplek vir besoekers mooi in te rig”, vertel Martie.

Johan Eybers en Rupert Bothma in die koffiewinkel. Foto: Verskaf

Die eindproduk is asemrowend! Dit is asof jy in ʼn boheemse wonderwêreld instap. Die restourasie bou voort op die herwinningstema wat perfek by die res van die gebou se Steampunk-styl aansluit en aan die gebou sy unieke karakter gee.

Die mure is verskillende kleure geverf – alles met oorskiet verf wat Martie in haar vorige kunsprojekte gebruik het. Silwer en goue verf dra by tot die barok-karakter en sy het verskillende verftegnieke gebruik om die tekstuur van die mure te beklemtoon.

In die boonste kuiergedeelte is daar twee vertrekke waar gaste kan kuier. In die een vertrek is die gekofferde plafon gerestoureer en met silwer verf afgewerk. Dit skep ʼn perfekte agtergrond vir twee pragtige kandelare wat uit gesmelte plastiek gemaak is en verbasend baie na aan ʼn kristalweergawe lyk. ʼn Derde boonste deel van die mure is met ou boeke afgewerk wat teenaan die muur vasgemaak is. Stoele in verskillende helder kleure en style dra by tot die vrolike, eklektiese mengelmoes en selfs die geraamde spieël, wat ʼn fokuspunt in die vertrek is, is met ʼn spesifieke verftegniek verouder.

Op dié foto is die gekofferde plafon, boek-afwerking aan die mure en kandelaar uit gesmelte plastiek duidelik sigbaar. Foto: Verskaf

Die tweede vertrek wat effens eenkant en stiller is, is met rusbanke uitgerus waar besoekers uitgenooi word om rustig te sit en lees. Hier hang rye enkel kandelare wat met afvalmateriaal opgedollie is.

ʼn Mens kan sien dat ʼn kunstenaarsoog beslis hier betrokke was. Martie is ʼn opgeleide beeldende kunstenaar en het die grootste estetiese inslag in die restourasieprojek gelewer. Sy skerm egter vinnig dat dit nie net sy was wat hier hard gewerk het nie: “Hierdie was ʼn groot groepsprojek. My man, Albert en sy broer George Bothma het baie ure hier ingesit en my seun, Aldin en Johan Eybers het ook hand bygesit.”

Re-Charge is reeds oop vir besoekers en Pizzas sal eers vanaf volgende Vrydag met die mark verkoop word. Kunswerke van Elna Venter en Jean Lampen wat deel is van hulle uitstalling, New Chapter, word ook hier uitgestal. Mark-ure van volgende naweek is Vrydag van 16:30 – 21:30 en Saterdag van 09:00 – 13:30. Alle Covid-19 regulasies word tydens die mark gehandhaaf.

Chanté du Toit en Jayl Pretorius kuier in die rustiger vertrek in die koffiewinkel. Foto: Ricardo Luit: Frank & Misses Photography

 

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button