Ligte, kameras, aksie – Volkies maak ‘n fliek!
Danksy positiewe en kreatiewe onderwysers by Hoër Volkskool, is leerlinge en onderwysers tans besig om saam aan die vervaardiging van ‘n volwaardige fliek te werk.
Danksy positiewe en kreatiewe onderwysers by Hoër Volkskool, is leerlinge en onderwysers tans besig om saam aan die vervaardiging van ‘n volwaardige fliek te werk.
Volgens Theunis Nel, eienaar van Vuma Produksies, is dit sover die eerste skool in die land wat volledig betrokke is by die maak van ‘n fliek – van die tegniese span tot die akteurs is almal leerlinge en onderwysers by die skool.
’n Brokkie van my hart, die titel van die fliek, is uit nood gebore toe die onderwysers van die bemarkingskomitee aan ‘n oorspronklike plan moes dink om die skool tydens die grendeltyd te bemark. Andries Huisamen en Elretha Janse van Rensburg, onderwysers van Volkies, vertel dat hulle nie ‘n virtuele bekendstelling van die skool wou gee soos al die ander skole gedoen het nie. “’n Mens kan nie die gees van Volkies met ‘n gewone bekendstelling vasvang nie,” sê Andries.

Elretha vertel dat ‘n Brokkie van my hart in die skoollied voorkom en sinspeel op die sentiment wat elke leerling rondom die skool met hulle saamdra. “Oudleerlinge van dié skool sê altyd dat ‘n stukkie van hul hart by die skool agterbly.”
Diegene wat betrokke was met die skryf van die draaiboek, was Elretha Janse van Rensburg, Welma Pieters, Luné van Rooyen en die produksiespan van die Vuma produksiehuis. Die fliek word hoofsaaklik op die skoolterrein verfilm, maar sluit ook ander bekende terreine in Potchefstroom in.
Die skrywers van die draaiboek is jaloers om die storielyn te deel en die Herald het met moeite Elretha se arm gedraai om tog te vertel waaroor dit gaan: “Die storielyn is gebou rondom ‘n sê-ding van mnr. Terry Nicolenas, ons hoof wat ook in die fliek speel. Hy sê altyd dat Volkies die beste skool is, want dit is ONS skool. Karakters beeld die skoollewe by Volkies uit en staaltjies uit die skool se verlede word ook ingeweef. Vriendskappe, koshuislewe, kattekwaad asook tienertrane is deel van die storie,” is al wat Elretha bereid was om te deel.

Chrisné van Tonder, wat die rol van Amanda in die fliek speel, sê: “Dit is baie opwindend en ‘n bietjie stresvol, maar dis baie lekker om ‘n rol in die fliek te vertolk.” Stephan Laubscaghne wat Frik speel, sê sy karakter is vol humor. “Ek is trots om deel van die fliek te wees. Ons word baie professioneel hanteer.” Yentl Lamprecht, wat die rol van Stella, die naïewe dom blondine vertolk, sê weer omdat die sport hierdie jaar as gevolg van die inperking weggeval het, voel sy dat sy tog iets agterlaat wanneer sy die einde van die jaar haar matriekeksamen voltooi.

Stef Koekemoer, Janu Fouché en Geert Stoop wat deel is van die tegniese span, sê ook dit is opwindend om te leer hoe die klank- en kameratoerusting werk. Theunis Nel, akteur, vervaardiger en eienaar van Vuma Produksies, sê dit is interessant om met die hoërskoolleerlinge te werk, want hulle het ‘n onskuldige passie vir wat hulle doen, veral omdat dit vir hulle skool is. “Hulle is entoesiasties en dis lekker om saam met hulle te werk, want daar is nie primadonnas nie,” spot hy.

Vir Elretha is dit ‘n voorreg om by so ‘n projek betrokke te wees, want sy kan sien hoe sommige leerlinge begin blom het. “Ek kan nie glo dis dieselfde mense wat ek elke dag in die skool sien nie. Sommige van hulle het beslis hulle passie met hierdie projek ontdek,” sê sy. Die skool beplan om einde September of begin Oktober die première by die skool te hou wanneer daar ‘n inryvertoning beplan word. Meer besonderhede oor die vertonings en kaartjies sal later gedeel word.




