Betogers spreek hulle frustrasies teen plaasmoorde uit
‘n Gesamentlike persverklaring van Afriforum, Agri NW, DA, SAAI, TLU SA en die Vryheidsfront Plus is Dinsdag, 13 Oktober met 'n vreedsame optog voor die Potchefstroomse landdroshof uitgestuur. Hierin deel hulle hul frustrasies met die regering se ontkenning dat plaasmoorde 'n probleem in Suid-Afrika is.
Met die tweede hofverskyning (Dinsdag, 13 Oktober) van die drie Mahlape-sibbes vir die moord op Sias Willemse (71), het lede van verskeie politieke partye en organisasies in Potchefstroom aan ‘n vreedsame optog deelgeneem.
Hiermee het hulle simpatie aan die Willemse- en Snyman-familie betoon wat hulle eggenoot, pa en oom weens moord verloor het. Sias Willemse was ‘n boer wat met beeste en mielies op ‘n plaas tussen Parys en Potchefstroom geboer het.
Hoewel sy moord tegnies nie as ‘n plaasmoord beskou word nie, het die optoggangers hom steeds as ‘n boer beskou wat weens sinnelose geweld gesterf het. Die land is tans in rep-en-roer nadat ‘n saamtrek in Senekel wat teen die wrede moord op Brendan Horner betoog het, handuit geruk het.
In ‘n gesamentlike persverklaring van Afriforum, Agri NW, DA, SAAI, TLU SA en die Vryheidsfront Plus het hulle hul frustrasies uitgespreek en gesê die huidige situasie kan nie so aangaan nie.

“Die vlaag van sinnelose en wrede moorde wat ook die Noordwes-provinsie in rou gedompel het in ‘n tyd waar wetteloosheid, misdaad en korrupsie steeds seëvier, het die frustrasievlakke en gedulddrempels van baie Suid-Afrikaners tot breekpunt gedryf.
“Die roekelose en ongefundeerde uitlatings van sekere politici, die naïewe en onnadenkende optrede van die gefrustreerde publiek, maar ook die kwaadwillige en doelbewuste aanhitsing deur grootpraters het die vlam baie naby die kruitvat gebring,” lui die verklaring.
Verder sê hulle: “Met die groeiende wetteloosheid, selektiewe en onregverdige toepassing van sekere wette en diskriminerende vertolking van gekose wetgewing het gematigde, gebalanseerde Suid-Afrikaners geen ander keuse nie om dit duidelik aan almal te maak dat hulle nou breekpunt bereik het. “Dit is net nie meer goed genoeg of aanvaarbaar dat politici, ander leiers en bevelvoerders van wetstoepassers in ‘n droomwêreld van ontkenning probeer agiteer dat daar nie fout is nie.

“Daar is groot fout met wetstoepassing. Daar is groot fout met die wyse waarop wette soos aanhitsing tot geweld, kwaadwillige saakbeskadiging, betreding ens. selektief toegepas word. Daar is groot fout as misdadigers wat vir die soveelste keer op borgtog is, weer moor.
“Daar is groot fout as die SAPD na ure, soms dae, eers reageer wanneer ‘n misdaad gerapporteer word. Daar is groot fout wanneer die wetstoepassers die wetbrekers word. Daar is groot fout wanneer minder en minder misdadigers gevang en gevonnis word. Daar is fout as hofsake maand na maand uitgestel word, net om later uitgegooi te word. DAAR IS GROOT FOUT!”
In die verklaring vra hul ook dat mense biddend en belydend aan die Hemelse Vader moet vra om Sy gees vaardig te maak oor die land, om oplossings te gee, om aan ons leiers wysheid, geloof en deursettingsvermoë te gee om die regte besluite te neem en om aan almal die moed te gee om te doen wat Hy van ons verwag.




