Local newsNewsNews

Gimmies se tweeling hoofleiers wil skool trots maak

Hierdie tweeling maak geskiedenis as die eerste seun en dogter-tweeling wat as Gimmies se hoofseun en hoofdogter aangewys is.

Twee koppe is beter as een is ’n raakvat beskrywing vir Potchefstroom Gimnasium se uitblinker tweeling en 2021 hoofleiers, Jacqueline en Michael van Rooyen.

Hierdie tweeling maak geskiedenis as die eerste seun en dogter-tweeling wat as Gimmies se hoofseun en hoofdogter aangewys is.
In 2010 is die identiese tweeling, Stephan en Vaughn Coetzee albei as hoofseuns van Gimmies aangewys, maar Jacqueline en Michael is die eerste dogter en seun tweeling kombinasie.

‘n Mens kan sê dat leierskap in die Van Rooyen’s se gene is – hul sussies Ilezé (2014) en Rizané (2017) was ook hoofdogters van Gimmies. Boonop was Michael en Jacqueline ook die hoofseun en hoofdogter van Laerskool Mooirivier in 2013.

“Leierskap kom natuurlik vir ons en dit is vir ons opwindend om ‘n verskil te maak en ook dinge te verbeter.

“Dit is vir ons albei ‘n groot eer om as hoofleiers te dien,” vertel Jacqueline opgewonde.
“Ek is baie bly en ek het gehuil toe Michael begin praat het en gesê het dat dit ‘n voorreg is om saam my hoofleier te wees,” beaam sy.

“Dit sink nog in om as hoofseun gekies te word. Dit is eintlik in ons geaardheid om leiers te wees,” voeg Michael by, wat ook bydrywig is op die sportveld in tennis, atletiek en hokkie.

 

Jacqueline en Michael is twee plaaskinders van die plaas Rietkuil, wat al van jongs af geleer het dat harde werk en doelgerigthheid vrugte dra. Hul ouers is die bekende Potchefstroomse boer, Tom en sy vrou Jackie, wat ook ‘n bekende netbalafrigter/bestuurder by Gimmies is.
“Ons ouers beteken ongelooflik baie vir ons en gee ons altyd raad hoe om situasies en die lewe te hanteer.

Die Van Rooyen-tweeling saam net hul ouers en die skoolhoof van Gimmies. Van links is pa Tom, Michael, mnr. Roelof Oosthuizen (skoolhoof), Jacqueline en ma Jackie. Foto: Andrea Visser

Dan is ons sussies ook daar om ons raad te gee omdat hulle ook hoofleiers was, so dit maak dinge makliker,” vertel Michael.

Jacqueline se liefde vir netbal kom van haar ma en sussies af, en is iets tesame met akademie waarin Gimmies se nuwe hoofmeisie uitblink.

“Ek het langs die netbalbaan grootgeword en dit is my groot liefde. Ek speel ook tennis, maar meer vir die lekkerte,” noem sy met ‘n glimlag.

Beide boetie en sussie stem saam dat balans een van die sleutels tot hul sukses is en hulle glo dat dit baie voordele inhou om mekaar so goed te ken in die vervulling van hulle hoofleiersrolle.
“My sterkpunte is dat ek kalm bly en ander kalm maak. My sussie is iemand wat baie sosiaal is en maklik met mense oor die weg kom,” sê Michael.
“Ek en my boetie hou daarvan om die voorbeeld te stel.

Ons is ook gemaklik saam met mekaar en is nie bang om goed vir mekaar te sê nie. Ons sal mekaar ook kan ondersteun en weet dat daar iemand is om op staat te maak,” voeg Jacqueline by.
Jacqueline sal graag na skool medies wil studeer, terwyl Michael graag aktuariële wetenskap wil studeer met die doel om later te boer – iets wat sterk in die familie se gene is.

“Die plaas is deel van hoe ons na skool ontspan. Dit is ons tuiste, so ons ry en kyk na die beeste op ons plaas terwyl ons musiek luister. Dit is vir ons ‘n lekker aktiwiteit. Tydens die lockdown was alles normaal op die plaas. Ons moes baie keer ook help en ‘n mens leer baie,” vertel Jacqueline.

Albei hierdie slimkoppe het ‘n groot liefde vir hul skool en sal alles doen om ‘n sukses van hulle matriekjaar te maak.

Michael en Jacqueline van Rooyen wil Gimmies as hoofleiers trots maak.

“‘n Mens moet die beste van elke oomblik maak. My doelwit is om seker te maak dat ons die hele skool trots maak en dat hulle trots is op die skool,” sê Michael.
Jacqueline weet ook dat leierskap en die toekoms eintlik nie net oor haar planne gaan nie, maar dat genade hul albei sal dra.

“Ek het deur my netbalbeserings geleer dat alles in God se wil is. Hy weet die beste en ‘n mens moet alles aan die Here opdra. Dit wat moet gebeur sal gebeur.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button