CommunityNewsNewsPhoto Galleries

Betogers by vullisterrein beseer mense en rig skade aan

‘n Groep betogers het verlede Dinsdag, 13 Oktober twee mans beseer en duisende rand se skade aan ‘n vervoertrok aangerig toe hulle die trok en werkers met klippe bestook het.

‘n Groep betogers het verlede Dinsdag, 13 Oktober twee mans beseer en duisende rand se skade aan ‘n vervoertrok aangerig toe hulle die trok en werkers met klippe bestook het.

Frik Koch, die bestuurder van die drie-ton-trok, sê hy het vroeg die oggend die eerste vrag afval gestort. Toe hy die terrein verlaat, het hy gesien daar is ‘n groep mense, jonk en oud, wat langs die pad saamdrom. Hy ry gewoonlik met Albert Luthuliweg, verby Promosa na die stortingsterrein.

Omstreeks 13:00 het hy met ‘n tweede vrag dieselfde pad gery en net voor die stortingsterrein gemerk dat daar klippe en stokke in die pad geplaas is. Toe hy nader ry, het van die mense geskree hy moet omdraai en begin om klippe na die voertuig te gooi. “Dit het so vinnig gebeur. Die twee mans, John Mqwathi en Sam Motswabe wat voor langs my in die trok gesit het, het uitgespring toe die eerste groot klip my kantvenster se ruit tref. Ek het dit gelukkig gesien aankom en gekeer dat die klip my in die gesig tref. Die ruit het in stukke gebreek en ek het my hand in die proses beseer,” vertel hy.

Mqwathi was nie so gelukkig nie en het in die proses om van die woedende skare af weg te kom, gestruikel. Hy is ernstig beseer toe ‘n groot klip sy skouer getref het. Koch sê hy het gesukkel om die groot trok skielik in trurat te sit en om te draai. Die voorruit van die trok is in die proses ook beskadig. Met sy terugtog het hy vir Mqwathi en Motswabe langs die pad opgelaai.

Die eienaar van die vervoertrok, Vincent Fürstenburg, is woedend oor die beserings wat sy werkers opgedoen het en die skade aan sy trok. Hy het reeds ‘n klag by die polisie gelê. Hy sê hy laai reeds vir die afgelope vier jaar elke dag tuinvullis en bourommel by die stortingsterrein af en hy het kliënte reg oor die stad, selfs op die kleinhoewes.

Behalwe vir die skade aan die trok, is daar ‘n verlies aan inkomste omdat die trok herstel moet word en die vullis vir ‘n hele paar dae nie opgelaai kan word nie.

Kol. Adéle Myburgh, polisiewoordvoerder in die Noordwes, het bevestig dat die polisie ‘n saak van opsetlike saakbeskadiging en aanranding met die doel om ernstig te beseer, ondersoek. Fürstenburg sê Mqwathi moes Potchefstroom Hospitaal toe gaan en die X-straal-plate wat van sy skouer geneem is, het bevestig dat sy skouer gekraak is.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button