CommunityPhoto Galleries

Speaker staan bont sodat finansiële verslae nie gelewer word nie

Die speaker van die J.B Marks munisipaliteit het die vorige raadsbesluit (3 Julie) dat finansiële verslae voor die raad moet dien voordat die begroting van 2020/2021 goedgekeur word summier geïgnoreer. Hy voer baie verskonings aan waarom dit nie gedoen hoef te word nie.

Na die onlangse raadsvergadering op 30 September, is daar steeds nie sekerheid wanneer die munisipale begroting goedgekeur gaan word nie. Die voorwaardelike goedkeuring van die 2020/2021 begroting is op 3 Julie eenparig deur die raad aanvaar. Dié besluit geld steeds ten spyte van die munisipale bestuurder en speaker, Elias Mogeemang, wat dit ontken.

Volgens die speaker het hy regskennis ingewin wat sê ‘n begroting kan nie voorwaardelik goedgekeur word nie en dat dit slegs goedgekeur of afgekeur kan word. Baie verskonings word gebruik om nie die finansiële verslae aan die raad voor te lê nie.

“Die voorwaardes wat op 3 Julie uiteengesit is, is bloot geïgnoreer en was nie eens op die agenda van die raadsvergadering op 30 September gelys nie,” sê Hans-Jurie Moolman, DA-raadslid van die JB Marks munisipaliteit. Die speaker het eenvoudig besluit dat die raadsbesluit geïgnoreer moet word.

Volgens Moolman het niemand die bevoegdheid om ‘n raadsbesluit ongedaan te maak, behalwe die raad self nie. Die voorwaardes vir die goedkeuring van die munisipale begroting het eerstens behels dat die daaropvolgende raadsvergadering binne 14 dae gehou moes word. Dit het nooit plaasgevind nie.

Die ander voorwaardes in ‘n neutedop was dat die burgemeester of munisipale bestuurder sekere finansiële verslae ter tafel moes lê. Dié finansiële verslae het onder meer te doen met die oortyd wat in die vorige finansiële jaar spandeer is, ondersoeke wat onregmatige en vrugtelose uitgawes van die laaste vier boekjare uitwys en volledige besonderhede wat regsgedinge vir of teen die JB Marks munisipaliteit in die afgelope vyf jaar uiteensit.

Die speaker het in ‘n brief van 18 September wat hy aan die DA gerig het, probeer regverdig waarom die voorwaardes nie geldig is nie. Hy het onder meer gesê dat die voorwaardes bloot versoeke van die DA is. Hy het ook ‘n stemnota van Moolman en EFF-raadslid Chester Moeletsi bekom waarin hulle vir mekaar noem dat amptenare geteiken gaan word. In sy brief sê Mogeemang: “Ek was ontsteld oor die manier waarop raadslede vir mekaar sê dat hulle die inligting (finansiële verslae) nodig het om van sekere lede van die administrasie wat hulle mense in die steek laat, ontslae te raak.

Volgens Moolan is daar niks fout om korrupte amptenare te teiken nie: “Dis presies wat die raad wil doen. Dit gaan hier om verantwoordbaarheid. Dis ons taak as raadslede om verantwoordbaarheid by die munisipaliteit te verseker.

Die rede waarom hulle nie daardie verslae voor die raad wil voorlê nie, is omdat dit ‘n klomp mense gaan impliseer en ‘n klomp inligting gaan openbaar maak wat met korrupsie by die munisipaliteit te doen het,” sê hy. Moolman het verder gesê dat die huidige administrateur, Thupi Mokhatla, bewus is van die voorwaardes  en dat hy ingestem het om dit verder te ondersoek.

Die Herald het die woordvoerder van die munisipaliteit Maandag om kommentaar genader, maar het nooit terugvoer ontvang nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button