Liggaam van vermiste Puk-student gevind
Die liggaam van die jong Puk-student, Klarissa Joubert (19), wat verlede Donderdag (21 Januarie) vermis geraak het toe sy saam met ʼn groep vriende op binnebande in die Oranjerivier geswem het, is gistermiddag rondom 13:00 gevind.
Die liggaam van die jong NWU-student, Klarissa Joubert (19), wat verlede Donderdag (21 Januarie) vermis geraak het toe sy saam met ʼn groep vriende op binnebande in die Oranjerivier geswem het, is gistermiddag rondom 13:00 gevind. Veiligheidspersoneel van Orania en lede van die SAPD van Kimberley het haar in die rivier gevind.
Klarissa Joubert (19) was ʼn sielkunde student aan die Noordwes Universiteit en het by haar ouers in die dorpie, Orania gebly toe die voorval plaasgevind het. Die dorp strek tot teenaan die Oranjerivier.

Volgens Joost Strydom, die uitvoerende hoof van die Orania Beweging, was haar liggaam sowat 1km van die area gekry waar sy in die water verdwyn het. Strydom het vertel dat die polisie aan hom verduidelik het dat dit aanvanklik moeilik is om ʼn liggaam te vind nadat ʼn persoon pas verdrink het omdat die liggaam tot op die bodem sak. Eers na ʼn paar dae styg die liggaam na die oppervlak wat dit makliker maak om dit te op te spoor.
Strydom het verlede week vertel dat Klarissa en ʼn groep vriende Donderdag laatmiddag in binnebande in die rivier afgedryf het. Klarrissa het van haar band afgeval en is deur ʼn stroom meegesleur. Haar vriendinne het haar probeer red, maar die stroom was te sterk en dit het gelyk asof sy begin water sluk het. Hulle kon haar later nie meer sien nie.
Die soektog na Klarissa het ongeveer vier dae geneem. “Orania se amptelike veiligheidsgroepe, OraniaMED24, die Suid-Afrikaanse Polisie, boere uit die omgewing en honderde vrywilligers het dag en nag saamgewerk om Klarissa te vind. Tydens die soektog is daar ʼn wye ondersteuningsnetwerk gevorm wat alles, van kos en brandstof tot gebede, gedeel het”, sê Strydom.
Die familie het die gemeenskap van Orania, die SAPD, elke helper asook hulle vriende van Ermelo vir al hulle hulp en ondersteuning bedank.
Die Jouberts het onlangs van Ermelo na Orania verhuis. Klarissa het in 2019 aan die Hoërskool Ermelo matrikuleer. Volgens Strydom het hulle nog nie ʼn jaar in Orania bly nie.
“Die soektog was uitputtend en ons is baie hartseer oor Klarissa, maar ons is in ‘n sekere mate verlig dat ons haar liggaam kon vind”, sê Strydom.




